Man voor vir seksuele aanranding (1)
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Bridgton wat van die seksuele aanranding van ’n 11-jarige meisie aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak uitgestel.
Paul Fouche, wat deur die kind “Uncle Paul” genoem is, word daarvan aangekla dat hy die meisie betas het nadat hy haar gevra het om sy rug te smeer. Hy ontken skuld en voer aan dat die meisie ’n storie opmaak.
Die staatsaaklaer, Willem Vister, het dit aan Fouche gestel dat hy sy weergawe aanpas en die hof versoek om dit te verwerp.
Fouche het getuig dat hy die meisie en ’n vriendin by ’n winkel gevra het om vir hom ’n simkaart by haar moeder te gaan kry. Sy het ’n verkeerde simkaart gebring en die twee het later die nuwe simkaart na sy blyplek gebring.
Alta Koopman by wie Fouche gewoon het, het egter getuig dat die kind alleen by die huis aangekom het. Sy het ook getuig dat sy kort hierna by die huis weg is en nie weet of die kind ’n tweede keer teruggekeer het nie.
Die landdros het Fouche hierna gewaarsku om nie die getuie met kopbewegings te probeer beïnvloed nie.
Die staat vra dat Fouche soos aangekla skuldig bevind word. Volgens Fouche se regshulpprokureur, Eugene Roos, het die staat nie daarin geslaag om Fouche se skuld te bewys nie en behoort hy vrygespreek te word.
Fouche is op borg in dié saak maar bly in aanhouding op ’n tweede seksklagte wat hy glo gepleeg het nadat borg aan hom toegestaan was.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius.