Oud-raadslid se verhoor: Lasbrief vir klaer wat nie opdaag

’N LASBRIEF is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof uitgereik vir die inhegtenisneming van ’n klaer in ’n saak teen ’n gewese raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit. Dié gewese raadslid word van verkragting, aanranding met die opset om ernstig te beseer en twee aanklagte van gewone aanranding aangekla.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die lasbrief versoek omdat die klaer betyds gedagvaar is maar nie vir die verhoor opgedaag het nie. Plaat­jies het vir uitstel gevra omdat die saak vir die eers­te keer op die hofrol was vir die verdagte om te pleit en die staat gereed is vir die verhoor.

Die verdagte, wie se naam nie gepubliseer mag word voordat hy gepleit het nie, se regsverteen­woor­diger, Werner Swanepoel, het die versoek teengestaan omdat dit volgens hom duidelik is dat die klaer nie met die saak wil voortgaan nie.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak vir ’n laaste keer tot 1 Junie uitgestel.

Die verdagte word daarvan aangekla dat hy op 2 Oktober 2021 die 39-jarige klaer in ’n huis in Das­sieweg, Bridgton, verkrag, op die grond neer­gegooi en op haar kop getrap het. Hy word ook aangekla dat hy op 29 September 2021 ’n 16-jarige meisie met ’n stukkie hout en ’n vyfjarige seun met die plathand geslaan het.

Sy borgtog van R300 en borgvoorwaardes is verleng. (Deur Garnett Wicomb)