KAN ’n uitspraak van regter Nobahle Mangcu-Lockwood in die Kaapse Hooggeregshof op 12 Mei 2022 weer die politieke landskap van Kannaland verander?
Mangcu-Lockwood het bevind dat die ANC se Nickey Valentyn en Leoni Stuurman in hul posisies as burgemeester en onderburgemeester van Kannaland kan aanbly totdat ’n dissiplinêre proses deur die ANC oor hulle afgehandel is.
Dié uitspraak volg egter slegs ses dae nadat Anthony Ewerts en Bradley Benades op Vrydag 6 Mei as nuwe ANC-raadslede in die plek van Valentyn en Stuurman ingesweer is.
• Verwarring het vroeër vanjaar ontstaan nadat die ANC die destydse munisipale bestuurder, Morné Hoog- baard, in kennis gestel het dat Valentyn en Stuurman se lidmaatskap opgeskort is.
Hoogbaard het hierna ’n brief aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gerig waarin vakatures vir die twee raadsposte verklaar is.
Valentyn en Stuurman het intussen teen hul skorsing deur die ANC geappelleer, met Valentyn wat aangevoer het dat die nodige prosesse nog nie afgehandel is nie en die appèl nog eers deur Luthulihuis aangespreek moet word.
Intussen is dit vir Jan en San Alleman moeilik om met die politieke veranderinge in Kannaland tred te hou…(Deur Deon Meyer)