Klein-Karoo olyfolie as beste ter wêreld gekroon

De Rustica Estate se Extra Virgin-olyfolie is onlangs uit 1000 inskrywings vir die Evooleum-kompetisie in Spanje gekroon as die beste ter wêreld.

Die olyfolie wat in die voetheuwels van die Swartberge buite De Rust geproduseer word, het verskeie produkte van Spanje en Italië die loef afgesteek om tydens blinde proesessies as die beste ter wêreld aangewys te word.

Die De Rustica Estate Collection Coratina is as die beste in verskeie klasse aangewys, naamlik monovariëteit/enkelkultivar, beste Coratina, die beste mengsel van groen en ryp vrugte, en die beste inskrywing uit Suid-Afrika.

Dié olyfolie het 97 punte uit 100 behaal en is as die absolute beste olyfolie uit vyf ander soortgelyke inskrywings onder die top tien bekroon in wat as die strafste kompetisie ter wêreld beskou word.

Dertien lande was vanjaar onder die top-100. Hulle is Suid-Afrika en Brasilië, die enigste twee lande uit die Suidelike Halfrond, Spanje en Italië, wat gewoonlik met die louere wegstap maar vir die eerste keer ooit deur Suid-Afrika onttroon is, Portugal, Griekeland, Kroasië, Slowenië, Turkye, Israel, Marokko en Tunisië.

Boerdery:
Sowat 100 000 olyfbome van onder meer die Coratina-kultivar is sedert 2006 op De Rustica in die Oudemuragie-vallei langs die Nelsrivier aangeplant. Die Coratina-kultivar floreer in klipperige grond in ’n warm, droë klimaat met koue winters.

De Rustica word as ’n medium-grootte onderneming beskou wat maar sowat 200 000 liter van die 2 miljoen liter olyfolie wat jaarliks in Suid-Afrika produseer word, lewer. In Spanje lewer ’n klein onderneming met behulp van dosyne boere sowat 1,2 miljoen liter per jaar.

De Rustica beslaan sowat 140 ha en buiten olywe en word hier ook met skape en lusern op ’n hoogte bo seespieël van tussen 400 en 650 m geboer. Drupbesproeiing uit leidamme en die Nelsrivier, wat deur bergwater gevoed word, word gebruik.

Sowat 200 werkers uit die omgewing pluk die olywe met die hand wanneer dit halfgroen tot ryp, maar nie oorryp is nie. Die plukseisioen duur sowat drie en ’n half maande. Daar is ook 45 voltydse werkers wat in die boorde en met die vee werk.

’n Koueparsmetode word gebruik, wat beteken die temperatuur tydens die proses moet konstant onder 28 °C wees. Die olywe word vinnig ver-werk om fermentasie, wat deur kneusing, hitte en lig veroorsaak word, te voorkom. Die parsproses, wat deurentyd gemonitor word, duur sowat ’n uur vandat die olywe by die pers gelewer word.

De Rustica olyf-olie is beskikbaar in die handel, aanlyn by https://derustica.co.za/products en op De Rustica in Oudemuragieweg aan die R62 op pad na De Rust. Kontak De Rustica by 044 241 2177 of info@derustica.co.za of besoek die webtuiste by www.derustica.co.za. (Deur Tisha Steyn)