Kannaland se politiek vra vir kophou…

Links: Anthony Ewerts (heel links) en Nicky Valentyn. Foto: Deon Meyer

DIE politiek in die omstrede Kannaland Munisipaliteit laat menige inwoner sukkel om by te hou. So moet mense dikwels nadink oor wie nóú hul burgemeester is, want onlangs was daar burgemeester Donson, bur­gemeester Barry, burgemeester Valentyn…

Volgens ’n brief van die Onafhanklikie Verkiesingskommissie (OVK) gedateer 28 Februarie moes burgemeester Nicky Valentyn plek maak vir sy goeie vriend, Anthony Ewerts, as burgemeester. Albei is van die ANC.

Dié skrywe van die OVK van 28 Februarie gee Kannaland se waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur, kennis van die vervanging van die raadslede soos bepaal word deur die Wet op Munisipale Strukture.

Luidens die brief moet raadslid Leoni Stuurman op haar beurt vervang word met die jong vuurvreter-politikus Bradley Benades.

Die ANC het Valentyn en Stuurman die deur gewys omdat hulle teen ’n ANC-besluit met die DA in koa­lisie gegaan het.

Beweringe van spanning in die ANC-kamp en tussen Valentyn en Ewerts word egter deur Ewerts ont­ken.

Volgens hom is hulle al meer as 30 jaar vriende en is die besluit deur die ANC se interim provinsiale komitee (IPC) geneem.

“Nie ek of Bradley Benades het onsself verkies nie. Dit is bloot soos prosesse in die ANC werk.”

Valentyn sê hy voel glad nie dat Ewerts hom in die rug gesteek het nie. “My advokaat is besig om die besluit van die OVK in die Hooggeregshof ter syde te laat stel,” het hy gesê. (Deur Deon Meyer)