Man los gesteelde voertuig op besige hoofpad

DIE saak teen ’n man van Moerasrivier wat van voertuigdiefstal aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak tot 4 April uitgestel.

Selrayno Lloyd (32) het op 16 Maart 2021 in ’n motor waarvan die deur oopgestaan het, in Parkweg, Oudts­hoorn geklim en daarmee tot in Moerasrivier gery. Sy tannie was saam met hom.

Hy ontken dat hy die voertuig gesteel het en pleit skuldig dat hy ’n voertuig sonder die toestemming van die eienaar gebruik het. Hy het aanvanklik getuig dat hy ’n geleentheid saam met iemand anders gekry het, maar later erken dat hy self bestuur het.

’n Provinsiale verkeersbeampte, Vernon Prins, het getuig dat hy die motor naby ’n skerp draai aan die verkeerde kant van die pad en half op die ryvlak sien staan het. Hy het stilgehou omdat dié motor ’n gevaar ingehou het vir ander voer­tuie en ’n botsing kon veroorsaak het.

Terwyl Prins met ’n familielid van die beskuldige gepraat het, het Lloyd aangehardloop gekom en die sleutels van die motor aan Prins oorhandig. Lloyd het hom meegedeel dat die persoon wat die motor bestuur het, verder gestap het.

Lloyd het egter in ’n pleitverduide- li­king erken dat hy in Parkweg gestap en ’n motor met ’n oop deur sien staan het. Hy het ingeklim, sy tante opgelaai en na Moe­rasrivier gery waar hy dit langs die pad gelos het.

Hy het erken dat hy nie oor ’n rybewys beskik en ook nie behoorlik kan bestuur nie.
Volgens die eienaar van die voertuig, Serfaas Faure, het hy net vinnig stilgehou en uitgeklim om met werkers van hom te praat. Toe hy terugkom was die motor weg. Die motor is so erg beskadig dat hy nie meer daarmee wil ry nie.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om Lloyd aan voertuig­diefstal skuldig te bevind omdat dit duidelik is dat hy dit nie aan die eienaar wou terugbesorg nie.

Lloyd se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het vir sy onskuld op die klagte van voertuigdiefstal gevra omdat Lloyd nie die eienaar permanent van sy voertuig wou ontneem nie. Hy het nie die voertuig weggesteek nie en dit gelos waarheen hy gegaan het. Voorts het hy gehardloop na die verkeersbeampte toe hy hom sien en die sleutels van die motor aan hom oorhandig.

Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.

Lloyd bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)