’N MAN wat verlede week deur die Oudtshoorn Polisie vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem is, is volgens inligting aan Die Hoorn verskaf moontlik ’n “gewoonte-inbreker” wat vir minstens 12 ander inbrake verantwoordelik is.
’n Inwoner, wat gevra het om anoniem te bly en wat vermoed dat die man wat gevang is ook by haar woning ingebreek het, het Vrydag (27 Augustus) aan Die Hoorn vertel dat die man betrap is met gesteelde goedere, en dat sy gehoor het dat die man se vingerafdrukke op ander huisbraaktonele gevind is.
Op navraag het kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, bevestig dat daar wel ’n man die oggend in hegtenis geneem is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, maar dat sy verbintenis met ander sake nog ondersoek moet word.
“Die ondersoek of hy wel met ander huisbraak-sake verbind kan word, moet nog gedoen word. Ons kan nie sê hy word verbind as hy nie aangekla word op die sake nie, en dit moet nog gebeur,” het Visser gesê.
Visser het gesê dat verdere inligting verskaf sal word sodra dit beskikbaar is. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Inbreker moontlik ’n gewoontemisdadiger
