Verskeie vulstasies in die Klein Karoo het limiete op die hoeveelheid brandstof te koop geplaas, om brandstoftekorte te probeer verhoed te midde van die styging in brandstofpryse wat vir April voorlê.
Die Hoorn het met Reinhardt van Coller, eienaar van R & R Petroleum net buite Oudtshoorn, gesels oor wat tans in die brandstofwêreld gebeur.
Hy sê die situasie word bemoeilik deur beperkings op brandstoflewerings. “Ons bestel volvragte van 40 000 liter, maar ontvang soms slegs tussen 25% en 50% van wat bestel is. Daar is brandstof beskikbaar by die hawens, maar dit word beperk versprei,” verduidelik hy.
Hy voeg by dat die koste van brandstof ook wisselvallig is.
“Elke vrag se prys verskil van dag tot dag. Diesel word tans op ’n kwotastelsel aangekoop en is tussen R3 en R4 per liter duurder as die vorige dag. Vervoerkostes speel ook ’n groot rol – brandstof uit Durban is goedkoper, maar die vervoer daarvan is baie duur, terwyl brandstof uit Kaapstad weer aansienlik duurder is, alhoewel dit nader is.”
Volgens Van Coller help hy om addisionele vragte vir vulstasies in George en Beaufort-Wes te reël, maar die druk op voorsiening bly groot. Daar is selfs vulstasies in die Oos-Kaap wat geen brandstof het nie.
Om seker te maak dat meer kliënte toegang tot brandstof het, word aankope in sekere gevalle beperk.
“Ons probeer seker maak almal kry ’n kans, en daarom beperk ons dit tot sowat 500 liter per kliënt,” sê hy.
Die situasie plaas veral druk op die landbousektor. “Boere kan nie met net 100 liter per dag klaarkom nie, veral nie met trekkers en implemente tydens ploeg- en planttyd nie,” waarsku Van Coller. Tekorte raak nie net diesel nie, maar ook petrol en paraffien.
Gemeenskapslede word aangemoedig om kalm te bly en slegs brandstof aan te koop volgens hul werklike behoeftes. Hoewel daar nie ’n nasionale tekort is nie, kan plaaslike voorsiening onder druk kom weens verhoogde aanvraag en logistieke uitdagings.
Van Coller het ook ’n waarskuwing aan motoriste: “Hou jou voertuig vol waar moontlik – anders kan jy dalk sonder brandstof sit.”
Volgens Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri, is daar tans logistieke vertraging van brandstofinvoere na Suid-Afrika.
“Die rede is die oorlog in die Midde-Ooste wat die prysverhoging en druk op die volumes plaas. Die vertraging veroorsaak dat daar tans ’n beperking geplaas word op hoeveelhede wat deur ons verskaffers aan ons gelewer word. Klein Karoo Agri pas dieselfde beginsel toe,” verduidelik hy.
Terwyl internasionale faktore buite plaaslike beheer bly, speel daaglikse besluite op grondvlak ’n bepalende rol.
Volgens Du Plessis plaas paniek aankope meer druk op die stelsel. “Die groot prysverhoging van 1 April 2026 laat ook kliënte vooruit aankope doen. Klein Karoo Agri is gereeld in kommunikasie met ons verskaffers om die aangeleentheid te bespreek en te bestuur.”
Hoewel die land nie tans ’n algehele brandstoftekort beleef nie, dui rolspelers daarop dat plaaslike druk en logistieke uitdagings in die komende weke ’n werklikheid kan bly, en dat verantwoordelike verbruik ’n sleutelrol sal speel om die impak te beperk.
In die lig van die onsekerheid bly die boodskap eenvoudig: gebruik brandstof wys, bly ingelig en vermy paniek. (ANGELIQUE ERASMUS)
Hou jou voertuig vol brandstof
