VOLGENS Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, het 2022 se Klein Karoo Nasionale
Kunstefees (KKNK) sowat R65 miljoen in Oudtshoorn se ekonomie ingestoot.
“Ons was verras deur teatergangers se aptyt vir gesellige samesyn en om te kan fees hou. Die bywoning van die 2022-fees op Oudtshoorn het ons verwagtinge oorskry,” het Sonn tydens die Kunste Onbeperk se Algemene Jaarvergadering verlede Vrydag gesê.
Daar is ook talle nuwe digitale platforms ge skep om die fees te bemark, die kunste te bevorder en
beter kontak met hul gehore te bewerkstellig.
Opwindende nuus oor KKNK 2023 is dat die fees oor die Paasnaweek sal plaasvind en nege dae
sal duur, wat twee naweke insluit.
Baron van Reedestraat sal ook weer soos in die verlede afgesper word.
“Ons wil graag die breë gemeenskap van Oudtshoorn bedank en is dankbaar vir hul getroue ondersteuning deur die moeilike sowel as die goeie tye,” het Sonn bygevoeg.
Sonn, wat nou al vyf jaar op die direksie dien, en het ook spesiale dank teenoor die bestuur en
personeel uitgespreek wat volgens hom “weereens wonders verrig het met die beperkte tyd en bronne wat tot hul beskikking was tydens 2022”.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, het vertel dat 2022 se fees letterlik
binne twee maande gereël is. “Die jaar 2022 sal onthou word vir die terugkeer van die Klein Karoo
Nasionale Kunstefees na ’n uitdagende paar jaar.
Om na twee jaar weer in Oudtshoorn ’n fees te kon aanbied, was ’n uitsonderlike ervaring,”
Hy het die hoofborg, Absa, uitgesonder en bedank dat hulle die fees steeds tydens moeilike tye
ondersteun het.
Volgens Theart het die KKNK vanjaar R9,4 miljoen aan kunstenaars en mense wat in die kunstebedryf werk, uitbetaal. “Die belangrikheid van werkskepping in die kunstebedryf kan nie genoeg beklemtoon word nie,” het hy gesê.
Theart het ook gesê dat ’n soortgelyke produksie as die voorheen bekende en gewilde Kaktus op die Vlaktes in 2023 na die KKNK sal terugkeer, maar met ’n ander naam. Dié produksie sal gemik wees op die studentemark en die jonger generasie.
Nog goeie nuus is die terugkeer van JC Aucamp na Kunste Onbeperk as bemarkingsbestuurder.
“Die storm is nog nie verby nie, maar ons is opgewonde oor en sien uit na die jaar wat voorlê,”
was Theart se opmerking.
Belangrike datums vir 2023
20 Januarie: KKNK-programbekendstelling op Oudtshoorn
1 tot 9 April: KKNK
5 Mei: Kannatoekennings in Kaapstad
4 tot 7 Augustus: Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn
28 Augustus tot 1 September: Teksmark in Kaapstad (Deur Angelique Erasmus)
