MENS word konstant daaraan herinner dat ru-olie, en dus alle brandstof, nie meer vir lank die weg vorentoe in die motorbedryf gaan wees nie. Dit is omdat dit doodeenvoudig nie meer volhoubaar is nie.
Die onmiddellike toekoms van dié bedryf sal ook nie kan staatmaak op slegs elektries-herlaaibare voertuie nie, omdat dit steeds op die oliebedryf staatmaak om krag op te wek, maar ook omdat daar steeds nie naastenby genoeg herlaaistasies geïnstalleer is nie! So hoe nou gemaak?
Die voorsienbare toekoms vir voertuie, volgens Robert Koen van Haval Oudtshoorn, is die hibriede-tipe voertuie wat ons tans in die mark begin sien, wat van beide petrol- én battery-aangedrewe motors gebruik maak.
Die Hoorn is onlangs juis agter die stuur van só ’n voertuig, die Haval H6 HEV, geplaas, om hierdie sogenaamde “toekoms” te toets.
HEV is ’n afkorting vir “Hybrid Electric Vehicle”, of hibriede elektriese voertuig.
Die Haval H6 HEV word aangedryf deur beide ’n 1,5 turbo petrolmotor wat 113 kW/233 Nm produseer, en ’n battery-aangedrewe motor wat 139 kW/300 Nm se krag produseer.
Dit beteken dat hierdie voertuig ’n gekombineerde kragtoe-voer van 179 kW en 530 Nm wringkrag lewer.
Met hierdie kombinasie spog die H6 HEV met ’n brandstofverbruiksyfer van 5.2 L per 100 km. Die Hoorn het self, oor ’n uitstappie van byna 66 km na die Swartbergpas gevind dat die voertuig 6.6 L per 100 km kon vermag. Die H6 HEV spog verder met ’n reeks gemaks- en veiligheidskenmerke wat verbasend na vore gekom het op die na- en terug roete van die pas.
Verkoelde sitplekke, ’n “touch screen” wat jou opsies in die voertuig vergemaklik, en ’n kattebak wat met die druk van ’n knoppie beheer kan word, is net enkele kenmerke van dié interessante voertuig.
Kyk gerus uit vir die video van dié interessante uitstappie met hierdie indrukwekkende voertuig op Die Hoorn se Facebook-blad.
Die toekoms van die motorbedryf
