Hersie­ningsaansoek van Brits moet wag tot 2019

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen die voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudts­hoorn, Johan Brits, wat op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte skuldig bevind is, is in die Hooggeregshof in Kaapstad tot 29 April 2019 uitgestel vir die uitslag van ’n hersieningsaansoek rondom sy skuldigbevinding.

Brits beweer dat ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toegelaat is en toelaatbare of bevoegde getuienis verwerp is.

Volgens die staatsaanklaer in die saak, adv Louis van Niekerk van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Brits se regsverteenwoordiger, adv Mar­tinus Barnard, vroeër uitstel ge­vra vir die indiening van verdere argumente om die skuldigbevinding van Brits deur landdros Neels Nortje te hersien en ter syde te stel, of terug te verwys vir verdere getuienis.

Die aansoek kan ook deur die hof verwerp word. Indien die aansoek verwerp word, sê Van Niekerk, kan vonnisverrigtinge in die Oudtshoorn Streekhof afgehandel word.