Grotte maak weer wins!

Oudtshoorn se ‘suksesstorie’

Deur Liesel le Roux
DAAR is weer hoop by Oudtshoorn se toerisme-ikoon, die Kango Grotte,

Verby is die dae van stukkende toilet­te, dakke wat lek en ’n finansiële krisis wat in 2014 ontstaan het toe die Grotte se bankrekening met R16 mil­joen daarin saamgevoeg is met die mu­nisipaliteit se bankrekening. (Laas­­- ge­noemde maak steeds deel uit van ’n ondersoek deur die Valke.)

Drie Wes-Kaapse ministers het Dinsdagoggend by ’n perskonferensie die Oudtshoorn Munisipaliteit geloof vir die wyse waarop hul die Kango Grotte oor die afgelope drie jaar omgedraai het van ’n instansie waarvan die deure amper gesluit is, tot ’n winsgewende bedryf wat ver­lede jaar die meeste besoekers die afgelope dekade ontvang het.

Die ministers, dr Ivan Meyer, Mi-nister van Finansies, Anton Bredell, Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en

Ontwikkelingsbeplanning, en Donald Grant, Minister van Vervoer en Openbare Werke, het Oudtshoorn en die Kango Grotte Dinsdag besoek.

Bredell het gesê dit is belangrik om terug te kyk na die situasie voordat Oudtshoorn in 2015 onder admi-nistrasie geplaas is en die Wes- Kaapse en nasionale regerings ingegryp het. “Die Kango Grotte was in daardie stadium onder geweldige druk en op die punt om gesluit te word. Ek weet nie of mense besef wat die invloed van politieke inmen­ging en swak bestuur op die Grotte was nie.

“Waar die Kango Grotte in daardie stadium verliese getoon het, was die afgelope drie jaar winsgewend.”

Die verliese tussen 2013 en 2016 was R870 000 in 2013/014, R2,92 miljoen in 2014/2015 en R477 000 in 2015/2016. Winste van R1,43 mil­joen in 2016/2017 en R1,27 miljoen in 2017/2018 het daarop gevolg.

Die winste sal slegs aangewend word vir die instandhouding en opgradering van die Grotte.

Boonop het besoekersgetalle ook weer begin klim met 270 000 besoe­kers aan die Grotte in 2017 – die meeste die afgelope dekade.

Meyer het die Kango Grotte en die omdraai van die finansiële krisis by die munisipaliteit as ’n “suksesstorie” bestempel. “Selfs nasionaal word kennis geneem van wat hier gebeur het sedert die dorp in 2015 onder administrasie geplaas is,” het hy gesê.

“Oudtshoorn was in die verlede vir al die verkeerde redes in die nuus. Die keer kan ons ’n positiewe boodskap uitdra – die laaste twee jaar is die nuus nie meer sleg nie.”

Grant het gesê dat die Wes-Kaap die afgelope drie jaar sowat R180 mil­joen gespandeer het op infrastruktuur in en om Oudtshoorn. Sowat R145 miljoen daarvan het gegaan na die opgradering van paaie met die doel om die gebied toeganklik te maak vir besoekers en toeriste.

Oudtshoorn se burgemeester, Co­lan Sylvester, het tydens die perskonferensie gesê dat ’n dorp slegs voor­- uit kan gaan indien daar politieke stabiliteit en bekwame amptenare is. “Die senior amptenare wat die laaste jare by die munisipaliteit aangesluit het, beskik oor ’n verskeidenheid belangrike vaardighede.”

Allen Paulse, die munisipale bestuurder, het by die perskonferensie gesê dat ’n permanente senior bestuurder vir die Kango

Grotte binne die volgende maand aangestel sal word. Die pos is onlangs geadverteer. Allison Moos neem sedert 2015 waar as waarnemende bestuurder.

• Volgens statistiek maak buitelandse besoekers tans 60% van die besoekers aan die Grotte uit. Tien jaar gelede was die situasie die teenoor­gestelde, met binnelandse besoekers wat toe sowat 60% uitgemaak het.

• Nog ’n berig geplaas “Dit was nie aldag maklik nie”