Dit was nie aldag maklik nie

Raadslede en amptenare van die Groter Oudtshoorn en Wes-Kaapse ministers Dinsdagoggend by die ingang van die Kango Grotte. Van links is raadslid Johan Fourie (voorsitter tegniese dienste-portefeulje), Anton Bredell (Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Rege­ring, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning), raadslid George Kersop (voorsitter finansiële portefeulje), Donald Grant (Wes-Kaapse Minister van Vervoer en Openbare Werke), Allison Moos (waarnemende bestuurder Kango Grotte), Colan Syl­vester (burgemees­ter), Tertius Simmers (DA-kiesafdelingshoof Oudtshoorn en Kannaland) en Julia le Roux (speaker).  Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE omdraaiproses om Oudtshoorn uit die skuld te kry en met herstel te begin, was nie aldag maklik nie. Dit was die terugvoer van verskeie betrok­kenes by ’n perskonferensie Dinsdagoggend by die Kango Grotte, en ook tydens toesprake en voorleggings Dinsdagaand by ’n burgemees­ters­ont­haal by De Opstal in Schoemanshoek.

“Dit is onder moeilike omstandighede gedoen. Dit vat tyd om ’n dorp om te draai,” het die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell, gesê. Hy het vertel hoe hy en Pravin Gordhan, destyds die nasionale minister van koöperatiewe regering, in 2015 in ’n hotel op die dorp moes vergader omdat hulle nie welkom by die munisipaliteit was nie.

“Daar was enorme druk van oral op ons om die dorp net reg te kry, sonder dat mense besef het hoe erg die verrotting by die munisipaliteit was,” het Allen Paulse, Oudtshoorn se munisipale bestuurder, vertel oor sy eerste maande op Oudtshoorn.

“Dit was baie moeilik vir ons wat van buite gekom het. Ons het nie geweet wie by die munisipaliteit is deel van die probleem nie. Jy kan nie met ’n stukkende trein ry nie, veral nie as daar ook nog spelonkrowers op die trein is nie!

“Dit was ook moeilik in die begin met talle tugverhore om van die verrotting ontslae te raak.

“Mense het voorts gedink alles sal net na die verkiesing regkom. Maar ons moes eers die bloeiende wond stop, daarna dit stabiliseer en eers toe kon jy begin omdraai.”

Paulse het vertel dat hy en die finansiële hoof, Felix Lötter, aanvanklik begin het met afbeta­lings­ooreenkomste met diegene aan wie geld geskuld is. ’n Diens­verskaffer is ook aange­stel om ’n omdraaistrategie op te stel wat slaafs nagevolg is.

Hy het die sukses wat behaal is, toegeskryf aan spanwerk asook nuwe waardes wat by die munisipaliteit geld. “As iemand gevang word met die hand in die kasregister, is hy of sy weg.”

Van die suksesse die afgelope twee jaar

• Die delging van agterstallige skuld: Die agterstallige skuld van R54 miljoen van Eskom is reeds begin November 2017 afbetaal. Alle ander agterstallige skuld is gedelg, met die laaste R28,5 miljoen gedurende die boekjaar wat op 30 Junie 2018 te einde geloop het.

• Die munisipaliteit se kontantposisie het van R27,8 miljoen in 2017 na R70,7 miljoen in 2018 verbeter.

• Die munisipaliteit is tans in staat om al sy ope­rasionele uitgawes te dek.

• Invordering van debiteure is hoër as 95%, met pogings om dit nog verder te verhoog.

• Daar was geen ongemagtigde uitgawes in die 2017/2018-boekjaar nie.

• Krediteure word binne 30 dae na fakturering betaal.

Die toekoms
Attie van Zyl van die Infrastructure Finance Corporation Limited (Inca) wat Dinsdagaand ’n voorlegging oor die omdraaiproses by die munisipaliteit gelewer het, het gewaarsku dat daar in Oudts­hoorn nie baie ruimte vir foute is nie. Inkomste in die dorp is die laagste binne die dis­triks­muni­sipaliteit en werkloosheid hoog. Hy het gesê om suksesvol in die toekoms te wees, is dit noodsaaklik dat produktiwiteit binne die munisipaliteit verhoog moet word, en die munisipaliteit gesteun word deur vennote soos die sakesektor, belas­tingbetalers en die provinsiale regering.