Gift of the Givers bring droogtehulp!
’n Groot groep dankbare boere het gisteroggend drie groot dubbelwa-vragmotors van Gift of the Givers op Oudtshoorn ingewag wat voer uit Mpumalanga na die droogtegeteisterde Klein Karoo gebring het. Gift of the Givers is die grootste ramphulporganisasie in Afrika. Hier by die groep boere staan die manne van Gift of the Givers in hul kenmerkende groen Suid-Afrikaanse hemde. Lees meer oor die afgelope week se droogtehulp op bladsy 3. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
NEGE vragmotors met voer vir boere in die droogtegeteisterde Klein Karoo is die afgelope week op verskeie plekke in die gebied afgelaai – danksy ’n droogtehulpfonds wat deur Agri Klein Karoo gestig is.
Die fonds staan bekend as die Klein Karoo Disaster Relief Fund.
Gister het die rampverligtingsorga-nisasie Gift of the Givers deur bemiddeling van die fonds drie vragmotors met voer na die Klein Karoo gebring.
Die voer kom van Charl Cilliers van Morgenzon in Mpumalanga.
Gift of the Givers is die grootste rampverligtingsorganisasie in Afrika en hulle help landwyd met droogtehulp vir boere. Van die drie vragte wat gister op Oudtshoorn aangekom het, is een in die De Rust-omgewing afgelewer en die ander twee in die Herold-omgewing.
Vroeër die week is vyf vragte af-gelaai – hiervan twee in die Volmoed-omgewing, een in die Rooiheuwel- omgewing en twee in die Bo-Kammanassie-omgewing. Die vragte, wat uit bale sorghum, oumansgras en armmanslusern bestaan, kom van George Pansegrouw van Elliot en Gideon van Zyl van Dordrecht in die Oos-Kaap.
Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo (AKK) se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, sê die Klein Karoo Disaster Relief Fund help nie net lede van Agri Klein Karoo nie, maar ook ander boere sowel as kleinboere.
Die noodfonds benodig egter finansiële bydraes om te kan help met die koste van vervoer en ander uitgawes.
Enigeen wat ’n bydrae wil lewer, kan Helen Butler by Agri Klein Ka-roo se kantoor by tel 0442791425 of by info@agrikleinkaroo.com kontak.
Bydraes kan ook inbetaal word in Klein Karoo Disaster Relief Fund se bankrekening: FNB-tjekrekeningnr 62336798501; takkode 200620.

Nog welkome droogtehulp vir boere! Twee vragte met voer wat oornag uit die Oos-Kaap na Oudtshoorn gebring is deur die bemiddeling van Agri Klein Karoo Dinsdagoggend in die Bo-Kammanassie afgelaai. Hier by die vragte is van links Laubscher Coetzee van Agri Klein Karoo en die vragmotorbestuurders, Riaan Theron, Riaan Rademan en John Mbaxa. Foto: Liesel le Roux