Dominique Karlien Janse van Rensburg (18 maande) wat binnekort ’n groot operasie moet ondergaan. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
AL is sy ’n vrolike 18 maande-oue meisietjie, moet Dominique van Oudtshoorn binnekort ’n ernstige operasie in Kaapstad ondergaan om te voorkom dat sy verlam raak.
Dominique se ma, Geraldine, sê haar dogtertjie moes vanaf geboorte veg vir oorlewing. Sy is op 31 weke gebore en het net 1,4 kg geweeg. Sy moes die eerste twee maande van haar lewe in ’n neonatale eenheid deurgebring.
Dominique ly aan ’n seldsame vorm van skoliose. Volgens Geraldine is dit ’n buiging van die rugstring wat in erge gevalle tot verlamming kan lei. “Hierdie operasies word nie op kinders jonger as twee gedoen nie, maar weens die erns daarvan en die moontlilkheid van verlamming moet Dominique binne die volgende maand dié gevaarlike en pynlike operasie ondergaan.”
Geraldine, ’n enkelouer, sê die uitgawes van die operasie is astronomies terwyl sy ook bekommerd is oor vervoer na en verblyf in Kaapstad waar hulle op 12 Junie moet wees vir ’n konsultasie.
Volgens haar ontvang sy wel onderhoud van Dominique se pa, maar weet sy steeds nie hoe sy die mediese koste gaan dek nie.
Enige persone wat Geraldine wil bystaan, kan haar kontak by 079 480 1713.