Blou bloed wiele

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

’n Massiewe hoeveelheid mense – volgens Nielsen Data ’n volle 29 miljoen – het Saterdag, 19 Mei, vasgenael voor die televisie gesit om te kyk hoe Prins Harry en Meghan Markle trou aan mekaar beloof.

Die mensdom se beheptheid met die koninklike gesin het ek persoonlik nog nooit gedeel of verstaan nie, maar miskien voed dit die hunkering na feeverhale op ’n manier.

Maar terwyl die troue van die jaar soveel aandag getrek het, gee dit my die kans om te berig oor die deel wat wel my aandag getrek het… die “blou bloed wiele”!

Die perdewaens met die gepaard-gaande prag en praal was nog altyd sentraal by die koninklike troues oor die jare. Hulle besef egter dat dit hul plig is om ook hul bydrae te lewer om die Britse motorbedryf te bevorder. En hierdie troue was, wat dit betref,  vol in die kol.

Meghan Markle en haar ma het by die St George’s Kapel opgedaag in ’n Rolls Royce Phantom IV wat in 1950 gebou is. Daar was slegs 18 van die spesifieke model gebou waarvan 14 nog in gebruik is. Hulle was nooit te koop aangebied nie en is eksklusief vir die konink-like familie beskikbaar gestel vir gebruik met belangrike gebeurtenisse. Die Rolls spog met ’n in-lyn V8-enjin wat 122 kW krag lewer. Die uniekheid van die enjin is die feit dat dit ontwerp is om anders as ander V8-enjins van daardie tyd, lang afstande teen luierspoed af te lê sonder om te oorverhit.

Agter die statige Rolls het die koningin gevolg in haar State Bentley wat in 2002 aan die koninklike gesin gegee is om hul goue huweliksherdenking te vier. Teen ’n koel R150miljoen is dit die waardevolste motor in die koninklike vloot. Dit word aangedryf deur die klassieke 6.75 liter V8-enjin wat spog met kraglewering van 300 kW en 850 Nm wrinkrag.

Kate Middleton is vervoer met ’n Daimler DS420. Die koninklike Daimler was van die laastes wat gebou is in 1992 en het dieselfde enjin in as wat die Jaguar E-Type so uitsonderlik gemaak het.

Prins Harry het die oog gevang deur op te daag in die alombeminde Jaguar E-Type wat in 1968 die lig gesien het. Jaguar het spesiaal die motor omgebou en dit is nou  batteryaangedrewe met GEEN uitlaatgasse nie. Die enjin vat die Jaguar binne 5.5 sek van 0 – 100 km/h. Ongelooflik vir ’n battery-aangedrewe motor.

Ter afsluiting ’n bietjie ironie. Hoewel al die bogenoemde fabrikate deur die breë publiek as Brits gesien word, is nie een meer eg Brits nie. Rolls Royce se base rapporteer aan BMW, Bentley s’n aan Volkswagen en Jaguar se meerderheid aandele behoort aan Tata.

Groetnis tot ’n volgende keer…