Groentemarksaak begin

Die verhoor van nege verdagtes, waarvan die meeste buitelanders is, wat aangekla word van gewapende roof en menseroof by die SWD Groentemark op Oudtshoorn, het uiteindelik Vrydag in die Oudtshoorn streekhof begin en is voorlopig vir verdere verhoordatums tot vandag (Donderdag, 14 September), uitgestel.

Tien verdagtes het glo op 19 Oktober 2021 die eienaars en werknemers van die onderneming met vuurwapens gedreig, vasgebind en van sowat R30 000 kontant en vyf selfone beroof.

Een van hulle het intussen in die tronk gesterf.

Agt van hulle is nog dieselfde dag naby Pins Albert in hegtenis geneem en die ander twee die volgende dag. Die nege staan tereg op drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede en agt van menseroof, en het Vrydag almal onskuldig gepleit. Die saak, waarin vier tolke optree, dien voor landdros Koeries van Mosselbaai en Brandon Smith is die aanklaer.

Brian Carelse van die regshulpraad verskyn vir die verdagtes wat almal in aanhouding bly. (Deur Garnett Wicomb)