Beheerligaam-lid skuldig

’n Lid van die beheerliggaam van ’n laerskool in Bridgton op Oudtshoorn is verlede week in die Oudtshoorn streekhof aan seksuele aanranding skuldig bevind en vonnisoplegging vir ’n korrektiewe verslag uitgestel.

Jan Botha het op 14 September 2022 ’n 21-jarige vrou se vrouedele en sitvlak betas terwyl hy met haar ’n onderhoud vir ’n betrekking in die skool se rekenaarlokaal gevoer het. Die klaer het onmiddellik nadat sy uit die rekenaarkamer gekom het aan ’n vrou wie sy nie ken nie, van haar ervaring vertel. Streeklanddros Daniel Boks het die klaer sowel as die vrou as betroubaar bevind en Botha se weergawe verwerp. Hy was volgens die landdros ’n swak getuie.

Die landdros het voorts gesê dit is jammer dat die skoolhoof aan wie die klaer vertel het wat Botha aan haar gedoen het, haar nie gehelp het nie.

Die hof het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en Botha soos aangekla skuldig bevind. Sy borgtog is tot vonnisoplegging op 27 September verleng. (Deur Garnett Wicomb)