Boutros saak na streekhof

Die vrou wat van moord op ’n gewilde rugbyspeler, Boutros May, aangekla word, het verlede Woensdag haar eerste verskyning in die streekhof gemaak.

Die 24-jarige Felicia Afrika word daarvan aangekla dat sy in Februarie vanjaar vir Boutros May in St Johnstraat, naby ’n bekende kuierplek, met ’n skerp voorwerp gesteek het. Hy het later in die hospitaal gesterf.

Die saak is na die streekhof oorgeplaas vir verhoor na die voltooiing van die polisie-ondersoek.
Sy is vroeër in die distrikshof borgtog toegestaan omdat sy ’n eerste oortreder is, nie ’n vlug-risiko is nie en daar geen ander hangende sake teen haar is nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak tot 31 Oktober uitgestel en Afrika se borgtog van R2 000 en borgvoorwaardes tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)