
Pat Marincowitz. Foto: Marlene Malan
Een van Prins Albert se bekendste en mees geliefde inwoners, Pat Marincowitz, is verlede Donderdag net voor sonsopkoms in sy huis aangeval. Hoewel hy nie ernstig beseer is nie, is hy getraumatiseer. Die bejaarde man het sy een hand beseer toe hy hom in die skemerdonker teen die inbreker verweer het. Dis nie bekend wat alles gesteel is nie.
Die polisie van Prins Albert het by navraag gesê geen verdagtes is nog in verband met die inbraak en aanval geïdentifiseer nie, maar die saak word ondersoek.
Marincowitz was jare lank president van die Prins Albert Skougenootskap en het steeds ’n lewendige belangstelling in landbousake. Hy het onlangs ook opgetree in die dokumentêr Eerstewater wat deur ’n mede-Prins Alberter, Hélène Smit, vervaardig is.
Marincowitz het in Maart vanjaar sy 94ste verjaardag gevier saam met genooide gaste in Die Windpomp, die restaurant by die skouterrein in Prins Albert. Sy vrou, Helena, wat in 2007 gesterf het, was ‘n bekende historikus en skrywer met ’n ongeëwenaarde kennis van kultuursake en die argitektuur van die omgewing. Helena is destyds ook in dié huis op die dorp aangeval.
Die aanval op Marincowitz kom te midde van ’n vlaag inbrake die afgelope sowat twee weke in Prins Albert, onder meer by gastehuise, dokterspreekkamers, die woonwapark en sakepersele. Van die toerusting wat gebruik word om toegang tot wooneiendomme te kry, is ’n koevoet (“crowbar”).
Barbara Gorniak, ’n inwoner en gastehuiseienaar, het aan Die Hoorn die skade gewys aan een van die groter deure van haar eiendom.
“Dis duidelik daar was pogings om die groot deur uit sy raam te lig.”
Die deur is aan die straatkant.

Die beskadigde deur. Foto: Marlene Malan

Die beskadigde deur. Foto: Marlene Malan
’n Jong dokter wat sy internskap by die Prins Albert Hospitaal doen en tydelik in dié gastehuis woon, het laataand sit en studeer toe hy van ’n gewerskaf aan die deur bewus geraak het.
“Ek het skielik gehoor hoe daar teen die deur gebeur en gedruk en gekrap word. Toe ek die buiteligte aanskakel, het twee mans oor die tuinmuur gespring en weggehardloop.”
Drank en geld is by ’n ander gastehuis gesteel waar in die nag ingebreek is; besoekers wat in die woonwapark tuisgegaan het, is besteel; en die stoorkamer van ’n groot winkel in die hoofstraat het deurgeloop.
Sers Nico April, polisiewoordvoerder, het ’n beroep op Prins Alberters gedoen om met enige inligting, hoe gering ook al, na vore te kom.
“Ons vra inwoners om hul oë en ore oop te hou. Selfs as jy honde aanhoudend hoor blaf, moet daar vir jou ‘n liggie aangaan. Bel ons dadelik.”
• Prins Albert Polisie: 023 541 8000. (Berig deur Marlene Malan)