Patricia (Penny) Wicomb. Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb
HY sal haar onthou as ’n formidabele, streng vrou, standvastig in haar geloof en iemand met ’n passie om na bejaardes om te sien.
“Haar ja was haar ja en haar nee, nee.”
So het biskop Trevor Stevens van die Nuwe Apostoliese Kerk vir Patricia “Penny” Wicomb (69), oud-departementshoof van die
Hoërskool Môrester, Saterdag tydens haar roudiens beskryf. Wicomb is op Vrydag 25 Mei na ’n lang siekbed in die Oudtshoorn Hospitaal oorlede.
Wicomb was baie aktief in haar kerk. Sy was oor die jare lid van die jeugvereniging, die kerkkoor en ’n Sondagskoolonderwyseres, maar haar grootste passie was om na bejaardes om te sien, iets wat sy tot haar siekte in 2017 met groot toewyding verrig het.
Sy het in 1958 saam met haar ouers, Louis en Mary Muller, suster en broers vanaf Kimberley na Oudtshoorn gekom nadat haar pa deur biskop Hollander van die Nuwe Apostoliese Kerk gevra is om die kerk op Oudtshoorn te vestig.
Sy het by St Simons begin skoolgaan en aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer.
In 1967 het sy haar onderwysdiploma aan die Sohnje Opleidingskollege verwerf en daarna in Oos-Londen, Grassy Park en op
Wynandsrivier skoolgehou voordat sy haar aan die Zonnebloem Kollege as LO-onderwyseres bekwaam het.
Met haar terugkeer na Oudtshoorn was sy LO-onderwyseres by Môrester voordat sy vir nog ‘n jaar se studie terug is na die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland.
Sy het in 1993 die tuig as Engelse departementshoof neergelê en word oorleef deur haar eggenoot, Maurice, ’n broer, Graham, twee kinders, Bertha en Quien, drie kleinkinders en een agterkleinkind.