Die wrede dood van Basil

• 50 meter van huis met draadstrik om nek gevind

5. Basil Basset

Deur Angelique Erasmus
DIE soektog na sy geliefde hond het Sondag tragies vir Len Bornman van die Hazenjacht-omgewing tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp geeïndig toe hy sy hond dood in ’n strik gevind het.

Volgens Bornman het Basil, soos hy sy basset genoem het wat hy by SA Basset Adoptions aangeneem het, sowat 50 meter van sy huis af gevind.

“Ek het Saterdag gaan fietsry en met my terugkeer opgemerk dat Basil nie ouder gewoonte by die huis is nie. Ons het na hom geroep, maar hy het nie gekom nie.

“Ek het die hele Saterdag na hom gesoek, tot na 24:00 in die nag.”

Sondagoggend het Bornman-hulle die hondjie ontdek met ’n draadstrik om die nek.

Volgens Bornman het ’n skaapkarkas daar naby gelê, klaarblyklik met die doel om vir Basil of sy ander honde nader te lok.

Hy sê daar was ’n gat in die heining met die draadstrik in die heining gestel.

Bornman vertel dat inwoners van die Vergelegen/Hazenjacht-omgewing kwaai deurloop onder inbrake, en dat hy vermoed  die strik is gestel sodat die honde weggelok kon word en daar by sy gastehuis ingebreek kon word.
“Daar is reeds twee maal tevore by ons ingebreek. Ons het drie ander strikke verwyder wat teen my heining gespan was,” sê Len.

Hy het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak.

Volgens Bornman is vier jeugdiges is al vier maal vir inbrake vasgetrek, maar word hulle elke keer in die sorg van hul ouers vrygelaat omdat daar nie ’n plek van veilighied is waarheen hulle ge­stuur kan word nie.