Die Gamkapoortdam wat boere in die Calitzdorp-omgewing van water voorsien, was op 28 November slegs 1,1% vol.
Met Die Hoorn se besoek Dinsdag aan die dam was dit duidelik dat die bietjie water wat nog oor is ook binnekort gaan verdamp met die versengende hitte wat tans ondervind word. Die laaste leibeurt uit dié dam wat in 1969 in gebruik geneem is, was in Maart vanjaar.
Volgens Fox Ledeboer, waterfiskaal van die dam, is dit nie die eerste keer dat die Gamkapoortdam so leeg is nie. “In 1992 het ek dieselfde gesig gesien, maar ook gesien hoe die dam binne 36 uur na hewige donderstorms in die opvangsgebied vol loop en die water ’n meter oor die damwal stroom,” sê Ledeboer.
Die stand van die ander groot besproeiingsdamme in die Klein Karoo is nie veel beter nie. Volgens die Departement van Water en Sanitasie wat die watervlakke van damme in die Wes-Kaap moniteer, was die stand van die volgende damme op 28 November soos volg: Stompdrifdam (15,7%), Kammanassiedam (12,2%), Leeugamkadam (4,8%) en die Calitzdorpdam (74,1%).
Volgens Boets Nel van De Krans Landgoed by Calitzdorp is daar nog ’n bietjie water in die riviere wat die boere uitpomp op hul vrugteboorde. “Die water is egter baie brak en nie van ’n goeie gehalte nie. Die lusernlande staan asvaal en almal hoop op uitkomste binnekort,” sê Nel. (Deur Higgo Jacobs)
ONDERSKRIF: Die Gamkapoortdam op Dinsdag, 6 Desember 2016, met die besoek van Die Hoorn. Foto: Higgo Jacobs