Ent jou kinders teen masels vir beskerming

DAAR is tans sowat 460 gerapporteerde maselsgevalle in Suid-Afrika, met vyf daarvan in die Wes-Kaap.

Hoewel dit te min is om as ’n “uitbreking” geklassifiseer te word, het die departement van gesondheid verlede week ouers en versorgers aangemoedig om kinders onder die ouderdom van 15 te laat inent teen masels.

“Daar sal landwyd aan elke kind onder die ouderdom van 15 ’n addisionele “booster”-dosis van die maselsinenting beskikbaar gestel word vanaf 6 Februarie tot 31 Maart 2023,” het die verklaring gelui.

Dit is deel van ’n nasionale inisia-tief om die uitbreking en verspreiding van die virus in Suid-Afrika te bekamp.

Ouers word gemaan om bedag te wees op enige simptome van die siekte en die kind dadelik na ‘n dokter of kliniek te neem indien daar vermoed word dat dit wel masels is.

Ondanks die beskikbaarheid van ’n veilige en effektiewe entstof, is masels volgens die gesondheidsdepartement steeds een van die meer algemene oorsake van dood onder jong kinders.

Dit is veral gevaarlik wanneer kinders ernstige komplikasies ontwikkel as gevolg van die virus, soos swelling op die brein of longontsteking.

Masels is hoogs aansteeklik en een van die maklikste virusse om oor te dra.

Die volgende simptome word met masels geassosieer:
1. ’n Baie hoë koors 10 tot 12 dae ná blootstelling aan die virus. Dit kan 4 – 7 dae duur.

2. Hoes, rooi waterige oë, loopneus en klein wit kolletjies aan die binnekant van die wange ontwikkel in die aanvanklike stadium.

3. Ná ’n paar dae sal ’n uitslag ont-wikkel, gewoonlik op die gesig en nek. Dit kan lyk soos klein rooi plat kolletjies en later oor die hele liggaam versprei. Die uitslag maak nie blasies nie, en is ook nie pynlik of jeukerig nie.

4. Ná sowat drie dae sal die uitslag verder versprei tot by die hande en voete. Dit kan sowat vyf tot ses dae duur voordat dit verdwyn. Die uitslag kan 14 dae nadat die persoon aan die virus blootgestel was eers begin ontwikkel.

Volgens dr Wessel Vermeulen, algemene praktisyn van Oudtshoorn is masels ’n baie ernstige siekte wat dodelik kan wees.

“Dit is egter baie skaars en is die siekte baie jare gelede in Oudtshoorn gesien. Daar is geen onlangse gevalle waarvan ek bewus is nie,” vertel hy.

Dit is wel’n bekommernis wanneer daar vrylike vloei vanaf ander lande se grense is, wat minder effektief is met hul inentings programme en nie so goed gereguleer is soos Suid-Afrika nie
Masels en Duitse Masels is nie aan mekaar verwant nie, en het baie min komplikasies aldus dr Vermeulen. (Deur Angelique Erasmus)