Eden FM treur oor “Ma Liney”

“Ma Liney”, soos sy alombekend was. Foto verskaf

SY was nie net ’n ma vir haar drie seuns nie maar ook ’n ma vir die sowat 200 000 luisteraars van Eden FM die grootste gemeenskapsradiostasie in die Suid-Kaap.

So het Morné Pietersen, stasiebestuurder van die radio, tydens die begrafnisdiens van die 54-jarige Susara Amsterdam, alombekend as “Ma Liney” en een van die radio se grootste ondersteuners , in ’n volgepakte Grace International Kerk op Oudtshoorn gesê,

Amsterdam van Tierweg, Bridgton op Oudtshoorn is op 24 Mei na ’n kort siekbed oorlede.

“Ons vier vandag die lewe van ’n spesiale vrou wat uit haar pad gegaan het om ander te help en onuitwisbare voetspore getrap en geweldig gemis sal word. Ons vier haar kroningsfees,” het Pietersen gesê.

Sy het volgens Pietersen ’n besondere plek in die Eden FM-familie se lewens gehad.

“Ma Liney se liefde en groot omgeehart en daaglikse boodskappe op die radio het vele van ons se harte daagliks geraak Sy sal veral gemis word deur haar Carpe Diem en Open Heavens-maatjies, asook deur die Soup Drive-span, waar sy ’n formidabele steunpilaar was.” het Pietersen gesê.

Hermien Petersen het namens die radio se luisteraars hulde aan Amsterdam gebring.

“Daar kom baie mense op ons pad maar daar is min van hulle wat ’n blywende indruk op jou lewe maak. Mense vergeet soms wat jy aan hulle sê. Hulle vergeet wat jy vir hulle doen, maar vergeet nie hoe jy hulle laat voel nie.

En suster Liney was een van dié mense. Iemand by wie jy altyd tuis, geliefd en geborge gevoel het. Sy het mense om haar vergader met haar omgee- hart en almal dieselfde behandel – van die mees eenvoudige tot die mees belangrike het sy met dieselfde respek, liefde en omgee van haar ontvang,” het Petersen gesê.

Volgens haar het Amsterdam in 2012 by die radio se uitreikspan aangesluit toe Nolan Arendse en Debbie Valentine met die program “Give thanks with a grateful Heart” begin het, om uit te reik met kos, klere, komberse en die evangelie na die mees arm en afgeleë gemeenskappe

“Sy het diep spore getrap wat nooit deur die winde van die tyd weggewaai sal word nie. Ons soete herinneringe sal haar impak aan die lewe hou terwyl ons werk om die seisoen wat sy begin het verder te vat. Daar is ’n seerplek en leemte in die Edem FM-familie wat baie lank sal neem om te genees.”

’n Groot seder het in Tierweg, Oudtshoorn en die hele Suid-Kaap geval en ons sal haar oneindig mis.” het Petersen gesê.

Pastoor Willie Coetzee, se boodskap aan Amsterdam se kinders was om net in hul ma se voetspore te loop. (Deur Garnett Wicomb)