Messe waarop beslag gelê is. Foto verskaf
HOEWEL die Ladismith Polisie daarin geslaag het om moorde tydens die feesdae te voorkom, is hulle bekommerd oor die toename van dwelms en dwelmgebruik in die gemeenskap.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, was die jongste oortreder wat vasgetrek is, slegs 15 jaar en die oudste 57 jaar oud.
“Dit raak die hele gemeenskap en beïnvloed die jeug negatief. Dit vra dus vir groter betrokkenheid van die gemeenskap. Ouers moet te alle tye weet waar hulle kinders is.”
44 mense is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, onder meer tik, dagga en Mandrax.
Ander misdaad tydens die vakansie:
Volgens Cederas is nog ’n bron van kommer die baie messe wat in die eerste twee weke in Desember by inwoners gevind is. “Die woongebied Nissenville is hier die probleemgebied.”
Vier persone is in hegtenis geneem vir handeldryf in drank sonder ’n lisensie.
Drie persone is in hegtenis geneem vir die bestuur van ’n voertuig onder die invloed.
• Die stasiebevel-voerder, lt kol Jakobus Marthinus, het sy lede geloof vir hul pogings om die gemeenskap van Ladismith, Zoar en Van Wyksdorp veilig te hou gedurende die feestyd. Hy het ook inwoners bedank vir hul bydrae om oortreders aan te keer. Hy het beklemtoon dat die oordra van inligting altyd as vertroulik hanteer word.