Deur Liesel le Roux
’N BELONING is uitgeloof nadat die vere van meer as 100 volstruise oornag op plase in die Volmoed- en sementpad-omgewing buite Oudtshoorn van die voëls se lywe gepluk en gesteel is.
Volgens Die Hoorn se inligting het volstruise by minstens vyf gevalle op plase deurgeloop.
Een van die boere, Bartel du Toit, sê sowat 24 van sy volstruise se vere is op 24 en 25 Desember gepluk. Hy het ’n beloning van R2 000 aangebied vir inligting wat tot die suksesvolle vervolging van die verdagtes sal lei. Van sy volstruise het ook in November deurgeloop.
Du Toit beraam sy skade op R68 000. Van die volstruise was reeds verkoop en hul slagwaarde het as gevolg van die plukkery gedaal, terwyl van sy broeivolstruise ook deurgeloop het en opgehou broei het.
Nog sowat 70 volstruise is na verneem word kort daarna op ’n ander plaas in die omgewing gepluk. Die Hoorn is ook bewus van ’n voorval in Oktober waar volstruise op ’n plaas gepluk is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word die misdaad deur die polisie se Veediefstaleenheid ondersoek.
Enige persone met inligting word versoek om ao Drieka Mentoor by 063 465 2736 of 082 469 7419 te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.