Groot krieket op Rec

Bo is die veelsydige Protea-krieketspeler Chris Morris in aksie en onder die Proteakolwer Farhaan Behardien.

DIE voorlaaste ronde van Krieket Suid-Afrika se vierdag konsessiereeks word vanaf Maandag (21 Januarie) op die Rec op Oudtshoorn beslis wanneer die WSB Cape Cobras en die Multiply Titans mekaar die stryd aansê.

Die legendariese Protea paaltjiewagter, Mark Boucher, is die Titans se afrigter en dit is die span se eerste besoek aan die Rec. Hulle is tans die verdedigende kampioene en beskik oor spelers met internasionale ervaring soos Heino Kuhn, Farhaan Behardien, Chris Morris en Henry Davids.

Die Cobras, wat deur Ashwell Prince afgerig word, is tans die gunstelinge om die huidige reeks te wen. Die Protea-debutant Zubayr Hamsa sal in aksie wees vir die Cobras asook spelers soos Rory Kleinveldt, Dane Piedt en Pieter Malan.

Dit sal die Cobras se vierde vierdag-kragmeting op Oudtshoorn wees waarvan hulle een gewen en twee gelykop geëindig het.

Ondanks die erge droogte wat tans op Oudtshoorn en in die omgewing ondervind word, is die Rec se baanblad en buiteveld in ’n goeie toestand. Spel begin daagliks om 10:00.

Mark Boucher.

Ashwell Prince.