Dit is hoekom jy dierewelsynorganisasies in die Klein Karoo moet ondersteun

Cuddles op die foto links toe sy opgetel is, en regs nadat sy geskeer is. (Foto’s verskaf)

’N HARTSEER storie het vandeesweek ’n silwer randjie gekry nadat ’n verlate hondjie deur ’n barmhartige Samaritaan langs die pad opgelaai is, en ’n dierewelsynorganisasie moes inspring om te help. Dit het die nood ván en vír die talle nie-winsgewende organisasies wat in die Klein Karoo werk weer in die kollig geplaas.

Lee-Ann van Sittert van die Cat Hotel op Oudts-hoorn, wat meerendeels met katte werk, maar altyd hand bysit wanneer ’n dier dit nodig het, vertel dat die Samaritaan die wolwrak van ’n brak Dinsdag (21 Junie) by die Kruisrivier-afdraai naby Calitzdorp gesien het, en onmiddelik opgelaai het.

Die vrou, wat gevra het om anoniem te bly, het Van Sittert genader vir hulp, omdat sy nie wou hê die hond moes teruggaan na ’n eienaar wat haar nie opgepas en versorg het nie.

“Ek dink die hondjie is heel moontlik net daar gelos of net erg verwaarloos.

“Haar pels was vol koeke, stokkies en dorings, en haar ontlasting het selfs aan haar vasgesit,” vertel Van Sittert.

Sy sê hulle het byna 1 kg se hare van die hondjie verwyder, haar gewas en gevoer, en sy is nou veilig. Die hond is Cuddles gedoop, omdat sy volgens Van Sittert geweldig baie van knuffel hou.

Vir nie-winsgewende dierewelsynorganisasies om onder meer hierdie werk, sterilisasie- en inentingsklinieke, en bewusmakingsveldtogte te kan uitvoer, het hulle die gemeenskap se hulp broodnodig. In meeste gevalle word hierdie organisasies deur individue of groepe bestuur op hul eie koste.

Raak asseblief betrokke, en ondersteun hulle.

Lys van Klein Karoo organisasies:
Animal Care Team (Oudtshoorn) – 082 927 7276
Cat Hotel (Oudtshoorn) – 083 334 0172
Diereherberg (Oudtshoorn) – 072 070 5977
Friends of Calitzdorp Animals (Calitzdorp) – 084 397 8287
Karoo Animal Protection Society (Barrydale, Calitzdorp) – 072 277 1056
Oudtshoorn Dogs in Need (Oudtshoorn) – 072 084 1374
Staatsveearts (Oudtshoorn) – 044 203 3000
(Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Dit is hoekom jy dierewelsynorganisasies in die Klein Karoo moet ondersteun"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*