Winter en jou diere se welstand

AS mens is dit maklik om in die herfs- en wintermaande jouself warm te hou wanneer die koue op jou toesak: trek ’n trui aan, gaan haal ’n kombers, of maak ’n vuur. Vir ons familietroeteldiere en selfs vir plaasdiere is dit glad nie so maklik nie – hulle maak immers op ons staat om hulle warm en gelukkig te hou.

Om die fisieke aspek van die koue se effek op ons diere aan te spreek is daar geen beter mense om mee te praat as ons plaaslike veeartse nie, met jare se kennis van hoe om met diere te werk in Oudtshoorn se koue. Wanneer dit kom by die welstand of geestesgesondheid van jou geliefde troeteldier, het ’n honde-afrigter van Oudtshoorn ook bietjie lig op die onderwerp kom werp.

Kango Dierekliniek
Dr Reinette du Plooy van Kango Dierekliniek werk reeds sedert 1996 met Oudtshoorniete se dierekinders. Haar praktyk op die hoek van Langenhovenweg en Bloemstraat het al menigte troeteldiere sien in- en uitkom, deur warm en koue maande.

Sy skerts dat buiten om seker te maak jou diere is warm en uit die koue, daar nie veel anders is wat ’n mens kan doen nie, maar sy bied wel raad aan oor die fynere aspekte van dierewelstand in die winter.

“Ouer honde en katte kry baie erger artritis in die kouer maande, en baie keer het hulle dan gewrigsaanvullings nodig wat daardie pyn help verlig. Ons gee dan ook vir die dier ’n anti-inflammatoriese middel, en die eienaar moet seker maak die dier slaap binne op iets sag, met ’n kombers of twee,” sê Du Plooy.

Volgens haar kan jou diere ook soms minder eet of drink gedurende die koue. Diere-eienaars moet dus altyd bedag op die kos- en waterbak wees. Nes mense, beweeg diere nie so gereeld rond nie en moet daar ook aandag gegee word aan hul gewig sodat hulle nie te veel gewig optel nie.

“Katte is nou weer interessant omdat hulle heel dag binne wil lê. Hulle hou dan hul uriene in omdat hulle nie in die koue wil uitgaan nie. Dit kan blaasstene in veral mannetjies veroorsaak, en ook in vetter, ouer katte.” Maak ook seker dat jy ’n sandbak of twee binnenshuis het met droë sand om hulle te aan te moedig om die sandbak meer gereeld te gebruik, veral wanneer dit nat en winderig buite is.

Oudtshoorn Dierekliniek
Dr Glen Carlisle, wat reeds die afgelope 27 jaar die Oudtshoorn Dierekliniek by sy kantore te Onverwachtsingel bedryf, se praktyk word meer beskou as ’n “gemengde praktyk”, wat beteken dat hy na plaas- én troeteldiere omsien, maar ook wild en “eksotiese diere” soos dié by die Cango Wildlife Ranch.

Sy dierekliniek, ook bekend as die Oudtshoorn Veterinary Clinic, bied volledige veeartsenydienste aan alle diere; “met ander woorde siek diere, entingsprogramme, voorkomende behandelings, dragtigheidsondersoeke en algemene praktyk,” sê hy.

Die praktyk is volledig toegerus vir x-strale, ultraklank (ultrasound), bloedchemie-ontleding, narkose en nog meer. Volgens Carlisle werk hy ook in die reproduksieveld van groot en klein diere.

Hy bevestig Du Plooy se raad dat die belangrikste ding wat jy in die wintermaande kan doen, is bloot om seker te maak jou diere bly warm. “Ouer honde en katte ly ook byvoorbeeld aan rumatiek, wat vererger in die wintermaande, en hulle kort pyn- en anti-inflammatoriese behandeling. Verder moet jy net jou diere snags binne hou indien moontlik, of in ’n beskikte area buite en so warm as moontlik,” sê hy.

Dieselfde beginsel geld plaasdiere. “Plaasdiere behoort ook in beskutte en warm krale of onderdak te slaap. ’n Jas of kombers is altyd ’n goeie idee, veral vir dunhaar of ouer diere.”

Buiten om warm te bly, sê Carlisle, is om aktief te bly en behoorlik te eet ook belangrik, al kan jy en jou troeteldier nie altyd die buitelewe geniet nie. “Ons winkel hou ’n wye verskeidenheid troeteldierspeelgoed en kougoed aan om die troeteldiere besig te hou wanneer hulle binne vertoef. Goeie, voedsame kos met ’n hoë energie-inhoud is net so belangrik om die diere warm te hou in die winter.”

Jou dier se fisieke gesondheid is nou afgehandel, maar wat van hul emosionele welstand?

Happy Tails Dog Training Centre
Petra du Toit van Happy Tails Dog Training Centre is nie net ’n honde-afrigter nie, maar ’n gedragspesialis. Sy sê dit is al wetenskaplik bewys dat ’n hond se brein baie soos ’n mens s’n werk. “Hulle het, nes ons, ’n limbiese sisteem en ’n serebrale korteks; dit beteken hulle het emosies, nes ons, en daarom moet ons doen wat ons kan om daarna om te sien,” maan sy.

Wanneer dit by die koue kom, sê Du Toit, kry diere nie so te sê “depressie” soos mense nie, maar mense spandeer ook nie meer so baie tyd buite in die koue nie, en dit kan jou dier affekteer, veral wanneer hy/sy heeldag binne is. “Baie van daardie diere kry nie baie stimulasie nie, hul wêreld is agter mure of heinings. Wanneer mense by die huis kom kry die dier miskien bietjie aandag, en ek voel ons doen ’n onreg aan hulle as ons nie tyd saam met hulle spandeer nie. Troeteldiere is so ’n gawe van bo. Die uitwerking wat diere op mense het is onrekenbaar. Met my terapiehonde het ek al wonderwerke gesien, rakende die effek wat ’n hond byvoorbeeld op ’n ouer mens of selfs siek of gestremde kinders het.”

Maar wat kan ons doen om ons diere se emosionele welstand te verseker?
“Ons het diere, in hierdie geval honde, geteel met ’n doel, duisende jare terug al, maar die doel waarvoor hulle geteel is word nie meer vervul nie, soos byvoorbeeld skaaphonde wat skape wil jaag, ’n alsation vir beskerming, of selfs ’n pitbull is almal vir ’n doel geteel, maar nou verwag ons hulle moet huisdiere wees. Om hulle dus vir opleiding te neem is wonderlik vir hul emosionele welstand. Dit hou hulle besig, en leer hulle nuwe dinge, waarvoor hulle baie lief is. Ons verwag dat hulle weet hoe om te reageer in ’n huis, en skel hulle as hulle ‘aanjaag’. Ons moet hulle eerder leer wat hulle mag doen en hul geaardheid in ag neem, in plaas daarvan om heeltyd ‘nee’ en ‘moenie’ te sê.”

Baie mense, sê Du Toit, dink ook “om die blok stap” is lekker vir jou hond, maar die waarheid is die teenoorgestelde.

“Veronderstel jy is ’n gevangene wat een keer per dag uitgelaat word, en jy moet verby al die ander gevangenisse agter hul tralies loop? Dit kweek eintlik stres en aggressiwiteit. ’n Hond wil snuffel en rondkyk en -loop of hardloop,” sê sy.

Daarom stel Du Toit voor dat jy eerder jou dier uit veld toe neem. “As hulle opgelei is kan jy hulle vrylaat, so te sê. Laat hulle toe om hond te wees! Laat hulle toe om te snuffel, en stimulasie te kry.

Selfs net daardie nuwe reuke wek emosie by honde.”

Buiten dit is speletjies speel met jou diere baie belangrik. “Steek byvoorbeeld hul kos weg in die tuin, en laat hulle daarvoor soek. ’n Hond gebruik sy/haar neus en moet ‘werk’ vir hul kos. Dit stimuleer hulle.” (Deur Stefan Skapie Goosen)