Vyf voormalige werknemers van Ostrich Products South Africa (OPSA) van Saag Jonker van Oudtshoorn, wat volstruisvere ter waarde van byna R200 000 van hul werkgewer gesteel het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof boetes en opgeskorte vonnisse opgelê nadat hulle pleit- en vonnisooreenkomste met die staat aangegaan het.
Thurston Wonderlik (34), Jacob Manuel (50), Denver Botha (49), Regan Gerber (49) en Joseph Philander (54), het erken dat hulle op 20 Junie 2024 twee houers met volstruisvere van OPSA na die woning van Wonderlik vervoer het waarop die polisie kort daarna beslag gelê het.
Al vyf was vir baie jare in die diens van OPSA en in vertrouensposisies.
Hulle het skuld erken en verskoning gevra vir wat hulle gedoen het.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof versoek om ʼn duidelike boodskap uit te stuur omdat die misdaad baie algemeen voorkom. Al die vere ter waarde van R189 036 is teruggevind.
Die vyf se regsverteenwoordiger, Curwin Lucas, het aan die hof gesê dat hulle verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar het deur skuldig te pleit en nie die hof se tyd gemors het nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die vyf elk tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is, en boetes van R5 000 of vyf maande gevangenisstraf opgelê. (GARNETT WICOMB)
Diewe van volstruisvere gevonnis
