Klein Karoo wynkelders skitter by Streeksjongwynskou

Christoff de Wet van De Krans. Foto verskaf

Verskeie produsente uit die Klein Karoo het met die nuwe wyne van 2025 aan die Klein Karoo Streeksjongwynskou deelgeneem en die uitslae is op 14 Augustus by Rietrivier Wynkelder, Montagu bekend gemaak.

Die Kampioen Privaatkelder, De Krans Wyn-kelder, ontvang die Standard Bank Trofee en die toekennings vir die Kampioen Nie-Muskaat Versterkte Wyn (Reserwe Groot Kampioen Wyn), Kampioen Sauvignon Blanc en die Reserwe Kampioen Ongewone Droë Wit.

Calitzdorp Wynkelder het die Kampioen Muskaat Versterkte Wyn asook die Reserwe en Kampioen Natuurlike Soet Tafelwyn opgelewer.

Boplaas Wynkelder het die toekennings vir die Kampioen Ongewone Droë Wit en die Reserwe Kampioen Nie-Muskaat Versterkte Wyn ontvang.

Die Schalk Joubert Trofee vir die Kampioen Produsente Kelder is toegeken aan Montagu Wynkelder wat uitsonderlik gepresteer het met die Groot Kampioenwyn, ’n Merlot, die Kampioen Droë Rooi wat ook die Vinpro Trofee ontvang het vir die beste wingerd.

Daarby volg die Reserwe Kampioen Droë Rooi (’n versnit), die Reserwe en Kampioen Cabernet Sauvignon, Kampioen Shiraz en die Kampioen Pinotage.

Die kelder het ook die Kampioen Droë Wit (Kampioen Chenin Blanc) en Reserwe Kampioen Droë Wit (Kampioen Chardonnay), Kampioen Colombar en laastens die Reserwe Kampioen Muskaat Versterk opgelewer.

Die Reserwe Kampioen Produsente Kelder, Rietrivier Wynkelder het die toekennings vir die Reserwe en Kampioen Ongewone Rooi asook die Kampioen Ruby Cabernet ontvang.

Jakkalsvlei Wynkelder is as die Reserwe Kampioen Privaatkelder aangewys met onder andere die Reserwe Kampioen Chardonnay, Reserwe Kampioen Chenin Blanc, Reserwe Kampioen Merlot en die Reserwe Kampioen Pinotage.