Deidri Opperman. Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb
“EK het haar verwurg en met ’n groot klip teen die kop gekap nadat ons begin stry en ek mense hoor aankom het. Ek wou haar stilmaak en toe ek besef dat ek ’n groot fout begaan het, het ek haar liggaam aan die brand gesteek.”
So sê Clifton Booysen (29) van De Rust in ’n pleit- en vonnisooreenkoms wat hy met die staat aangegaan het vir die moord op die 17-jarige Deidri Opperman van De Rust.
Booysen is daarvan aangekla dat hy vir Deidri op Saterdag 2 September 2017 vermoor en aan die brand gesteek het, en het tereg gestaan op klagtes van moord en poging tot regsverydeling.
Opperman is die volgende dag as vermis by die polisie aangemeld nadat sy nie van ’n bring-en-braai by vriende teruggekeer het huis toe nie.
Volgens Booysen het hy die oorledene in die vroeë oggendure langs die pad gekry waar sy hom gevra het om saam met haar huis toe te stap.
Hy erken in sy pleitverduideliking hy het verkeerd opgetree en moet daarvoor gestraf word.
Booysen is tot 15 jaar tronkstraf vir moord en vyf jaar vir poging tot regsverydeling gevonnis deurdat hy probeer het om die verloop van die gereg te dwarsboom of te belemmer deur die liggaam van Opperman aan die brand te steek nadat hy haar vermoor het, met die doel om die oorskot te vernietig en sodoende haar identiteit te verbloem en /of om leidrade te vernietig.
Die staat het sy pleitverduideliking aanvaar en hy is deur streeklanddros Neels Nortje gevonnis.
Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word, wat beteken dat hy effektief vir 15 jaar tronk toe sal gaan.
Corné Pretorius was die aanklaer en Eugene Roos het in opdrag van die Regshulpraad vir Booysen verskyn.