Buurtwag nou amptelik in Calitzdorp op straat

Jacob Willemse, buurtwagleier (tweede van regs), en buurtwaglede met die dokument wat amptelik erkenning aan die buurtwag gee. Foto:Deon Meyer

DIE Calitzdorp Buurtwag is nou amp­telik op straat.

Jacob Willemse, buurtwagleier, sê: “Ons het vir maande gesukkel om erkenning te verkry. Ons moes druk op die Departement van Gemeenskapsveiligheid plaas. Uiteindelik is ons harde werk beloon.”

Willemse sê die buurtwag wil ’n helpende hand vir die Polisie wees en die gemeenskap dien.

“Covid 19-bepalings moet eer­bie­dig word. Samedromming by die kitsbanke tydens Allpay bly ook ’n kopseer. Ons wil al hierdie optredes stopsit.”

Willemse sê die gemeenskap sal nou rustiger kan slaap, omdat die buurtwag ’n ogie oor hul eiendom sal hou, selfs wanneer hulle met vakansie is.

“Ons kinders se veiligheid is ook hoog op ons prioriteitslys.”

Daantjie Loff, lid van die buurtwag, sê hulle gaan booswigte laat les opsê.

“Die SAPD se taak moet vergemaklik word. Ons gemeenskap moet veilig voel, hulle moet op ons kan staat maak.”

Wade Seal, woordvoerder van die Departement Gemeenskapsveilig­heid, het bevestig dat die buurtwag se akkreditasie op 14 Julie 2021 goed­gekeur is en die toepaslike dokumente reeds aan die plaaslike stasiekommissaris gestuur is. (Deur Deon Meyer)