
Liezl Booysen. Foto: Facebook
Barrydale: PETRUS SEPTEMBER, die 37-jarige man wat in Julie 2020 gearresteer is vir die moord van ’n Barrydale-tiener, Liezl Booysen (14), is op 26 Augustus tronkstraf van 20 jaar in die Swellendam Hooggeregshof opgelê.
Die hof het gehoor hoe September (37) op 18 Julie 2020 Booysen herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek het nadat sy bierbottels laat val het wat hy naby die ashoop buite Barrydale weggesteek het.
September het getuig dat hy saam met Booysen en haar vriendin na die ashoop gestap het en haar in ’n woede-uitbarsting vermoor het.
Die vriendin het reeds voor die grusame gebeure spore gemaak, maar het getuig dat sy kon hoor hoe haar maat om haar lewe gepleit het.
Booysen se gesin het kort na die gebeure die polisie verwittig en daar is spoedig opgetree.
September is met sy bloedbevlekte klere vasgetrek en hy het later skuldig gepleit.
Met sy skuldigbevinding is September aanvanklik tot 15 jaar gevonnis, maar die staat het aangevoer dat die omstandighede rondom die saak ’n vonnis van meer as die voorgeskrewe minimum regverdig.
“Die staat het versoek dat die beskuldigde ’n lewenslange vonnis ontvang, maar die hof het op twintig jaar besluit wat steeds meer as die minimum vonnis is,” het Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aan News62 verduidelik.
“Die NVG verwelkom hierdie uitspraak,” het Ntabazalila gesê. (Deur Mickey Mentz van News62)