Beloning na inbraak by kuierplek

Deur Garnett Wicomb
DIE eienaars van die baie gewilde sportkroeg op die Checkers Square, Wic’it Sports Pub, het ’n beloning van R2 000 uitgeloof vir die inhegtenisname en skuldigbevinding van die dief of diewe wat by die besigheid ingebreek en met kontant van meer as R45 000 weggekom het.

Die inbraak het volgens kapt Louis Visser, woord­voerder van die Oudtshoorn Polisie, Son­dagoggend 2 Maart tussen 04:30 en 05:30 plaasgevind, kort nadat die personeel die besigheid gesluit en dit verlaat het.

Die eienaars, Elroy en Maurice Wicomb, vermoed dat die diewe in die nabyheid geskuil het voor­dat hulle toegeslaan het. Hulle het ook ’n vermoede wie dit kan wees omdat die diewe met presisie te werk gegaan het.

Die slotte aan die diefwering is oopgekap en die deure oopgesluit. Daarna is ’n kleiner kluis waarin die personeel die dag se inkomste en kleingeld vir die nag toesluit, oopgekap, en al die geld sowel as die hardeskyf met al die videobeeldmateriaal daarop gesteel.

Geen drank of ander items is gesteel nie en die diewe het gevlug voordat sekuriteitsbeamptes hul opwagting gemaak het. Daar word ook vermoed dat die diewe gereelde besoekers van die kroeg is.

Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, sp/konst Elrico Prins, by 044 203 9013 of 074 859 3697 skakel of kapt Deon Bouwer (bevelvoer­der) by 082 302 4395.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.