Basson gaan poog vir braai rekord

Gielie Basson gaan ’n nuwe braai-rekord probeer opstel vir die langste braai. Die poging gaan die naweek van 21 - 24 September plaasvind op Calitzdorp. Hy sal in totaal vir sowat 84 ure lank moet braai om die rekord van 80 ure te breek. Hierdie is ’n ampteklike Guiness wêreld-rekordpoging. Foto: Verskaf

DIE eienaar van Zamani Grill in Calitzdorp, Gielie Basson, gaan die naweek van 21 – 24 September die wêreldrekord vir die langste braai probeer opstel.

Die Guinness wêreldrekord vir die langste braai is op hierdie stadium 80 uur, maar hy gaan mik om ’n nuwe rekord op te stel van 84 uur. Die huidige rekord is opgestel deur Jan Greeff, ’n Suid-Afrikaner wat in die VSA bly en die rekord daar opgestel het.

“Ek moet letterlik alles wat met die braai proses gepaard gaan alleen doen. Ek kry 5 minute rustyd per uur, wat beteken dat ek 2 ure kan rus in 24 uur”, het Basson gesê.

Geen kos mag verkoop word nie. Die braaivleis en mielies wat hy gaan braai sal uitgedeel word aan onder andere die nooddienste soos die polisie, ambulansdienste en klinieke, die ouetehuis, Vygieshof en die sopkombuis in Bergsig, Calitzdorp. Verder sal die gaste by Zamani Grill ook welkom wees om ’n happie van die braairooster af te geniet.

Teen Sondagmiddag 15:00 sal die rekord van 80 uur gebreek wees, maar hy gaan poog om die vuur langer aan die brand te hou sodat ’n nuwe rekord van 84 uur op Suid-Afrikaanse bodem opgestel kan word. (Deur Lindi Brill)