Tweede boek vir Brenda

Brenda van der Westhuizen (middel) saam met Riana Nel (links) en Pat Calitz (regs) wat haar boekbekendstelling op Vrydag 4 Augustus bygewoon het. Foto verskaf

BRENDA van der Westhuizen het so pas haar 2de boek, Die Lewe – ’n reis vrygestel. Haar eerste boek is in Mei 2021 uitgegee.

Die boek is verlede Vrydag tydens ’n gesellige aand bekendge-stel in Calitzdorp.

Haar eerste boek getitel Son, see en saffier is deur Naledi Uitgewers gedruk, en een van die stories, Jong Bruid, is op Kaapstad radio as ’n kortverhaal uitgesaai.

Dit neem haar sowat 9 maande na ’n jaar om ’n boek te skryf.

Dit is egter nie die einde nie, want daarna skaaf sy steeds aan die storie om seker te maak sy is gelukkig voor dit as ’n manuskrip na uitgewers gestuur word.

Van der Westhuizen woon reeds sowat 7 jaar net buite Ca-litzdorp op ’n kleinhoewe waar sy met olywe boer wanneer sy nie skryf nie.

Maar, wanneer die skryfgogga haar vasvat, dan skryf sy dat die biesies bewe omdat sy so ’n groot voorliefde vir Afrikaans het.

“Ek sal sterf vir my taal,” vertel sy

Hierdie boek word deur NS Skrywershuis uitgegee.

Van der Westhuizen word op die flapteks, deur Nico Shamrel van Skrywershuis beskryf as, iemand wat haar ervaring met liefde en passie deel sonder om dit vulgêr of goedkoop te maak, maar eerder ’n half onskuldige, of naïewe ervaring daarvan maak, soos ’n blom wat in die oggend oopvou, sonder om te weet hoe die wêreld gaan wees.

Vir meer inligting kontak haar gerus by 071 678 4292 vir meer oor haar roman. (Deur Angelique Erasmus)