Almal nou welkom by KKNK

DIE KKNK het vandeesweek sy inentingsmandaat aangepas sodat ook mense wat nie ingeënt is nie, vanjaar se fees sal kan bywoon.

Dit volg op terugvoer van die publiek op die mandaat en na oorlegpleging met ’n advieskomitee van regs- en mediese deskundiges.

Mense wat nie ingeënt is nie, sal nou ook die KKNK kan bywoon as hulle een van die volgende kan toon:
• ’n Negatiewe Covid-19-toetsresultaat na ’n antigene sneltoets óf ’n PCR-toets. Dié toets mag eers op 28 Maart of daarna gedoen wees (vir die publiek) en voor of op 26 Maart vir leweransiers en kontrakteurs.

• ’n Bewys dat jy binne die voorafgaande drie maande positief getoets het vir Covid-19.
Almal wat bewyse van inenting óf ’n negatiewe Covid-19-toetsresultaat kan lewer, sal ’n toegangskenteken – ’n armband – ontvang wat by alle lokale nagegaan sal word.

• Kinders onder 12 jaar is egter nie aan dié bepalings en voorwaardes onderhewig nie en sal sonder dit in lokale toegelaat word.

Luidens ’n persverklaring van die KKNK wat Dinsdag uitgereik is, is dié maatreëls inge­stel bloot om die veiligste moontlike fees vir besoekers, kuns­tenaars, personeel, diensverskaffers en inwo­ners van Oudtshoorn te verseker en die versprei-ding van Covid-19 sover moontlik te beperk.

“Ná ’n afwesigheid van twee jaar is die fees terug op Oudtshoorn met die bedreiging van Covid-19 steeds in ons midde. As feesorgani­seer­ders moet ons die beste oplossings probeer vind om ’n veilige omgewing te skep vir ’n groot massa feesgangers en alle ander betrokkenes, en om so blootstelling aan die virus maksimaal te beperk,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

Diegene wat ingeënt is, kan hul inentingskaart/-sertifikaat (papier of elektronies) toon met beamptes wat dit saam met jou identiteitsdokument, paspoort of geboortesertifikaat sal nagaan en verifieer. Dieselfde geld vir buitelandse besoe­kers wat soortgelyke bewyse van inenting in hul land sal moet toon.

Inenting verwys na een Johnson & Johnson-inspuiting en ’n versterkingsinenting (“booster”) of twee Pfizer-inentings.

Intussen verkoop kaartjies vir die fees glo fluks terwyl kunstenaars landwyd hard besig is om voor te berei vir die eerste KKNK sedert 2019.

• Kaartjies vir vanjaar se fees is te koop by Pick n Pay landwyd, aanlyn by https://www.webtickets.co.za/v2/ en op Oudtshoorn ook by die KKNK-kantoor in Jan van Riebeeckstraat 217.

• Verblyfbesprekings kan gedoen word by https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie-naby/kknk of https://kknk.co.za/verblyf-lekkeslaap/ (Deur Liesel le Roux)