’N MAN van Bridgton met agt vorige veroordelings is in die Oudtshoorn Streekhof vir ses jaar tronk toe gestuur nadat hy ’n 15-jarige meisie van kontant en ’n selfoon beroof het, en aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Die hof het bevind Hansie Stuurman (31) het op 7 Januarie 2021 vir Sheronay Coetzee in Dassieweg met ’n mes gedreig en haar beroof.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Stuurman se vorige vonnisse hom nie afgeskrik het nie.
Sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, het vir ’n afwyking van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar gevra omdat dit die eerste keer is dat hy aan roof skuldig bevind is en sy slagoffer nie enige beserings opgedoen het nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met die vonnisoplegging van Stuurman gesê hy is nie ’n vreemdeling in die hof nie, en dat hy nie na sy vorige vonnisse gerehabiliteer het nie. Hy het onskuldig gepleit, maar is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind.
“Hy toon nie enige berou nie, en het geen respek vir ander mense nie,” het die landdros gesê.
Volgens Moni het elke persoon die reg om vrylik rond te beweeg.
Die hof het wel bevind dat wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar af te wyk, maar dat ’n opgeskorte vonnis buite die kwessie was. (Deur Garnett Wicomb)