50 Bome vir Boomplantmaand

Bo: Twee leerders help plant. Foto’s verskaf Onder: Van die 50 bome wat geskenk is en by verskeie skole in Kannaland geplant gaan word.

Die AfriForum-tak in Kannaland het vyftig bome by tien verskillende skole binne ’n week geplant sedert dié tak se boomplantprojek op 1 September geloods is.

Hierdie bome, waaronder geelhout, witstinkhout, olienhout en wildevy, is as skenking vanaf die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing ontvang. Die bome is ter viering van Boomplantmaand aangeplant en ook om bewusmaking van die omgewing te skep.

Die Kannaland-tak was die eerste van AfriForum se takke in die suidstreek om deel te neem aan hierdie nasionale projek.

Die skole waar die bome geplant het, is Shalom Akademie, Ladismith Sekondêr en Towerkop Primêre Skool in Ladismith; Hoërskool Calitzdorp en Exelsior Primêre Skool in Calitzdorp; asook Van Wyksdorp Primêre Skool in Van Wyksdorp. Hierdie skole het die bome met dank ontvang.

Die bome het ook vir groot opwinding onder die kinders, wat gehelp het om die bome te plant, gesorg – hulle het dadelik eienaarskap geneem vir die versorging van die bome. Die tak het ook bome aan skole in Hoeko, Zoar en Voorbaat geskenk.

“Ons is dankbaar vir die verskil wat ons kon maak in kinders se lewens en ons sal voortgaan om ons gemeenskap op te voed oor die belangrikheid van omgewingsbewaring,” sê Elize Smit, projektebeampte van AfriForum se Kannaland-tak.

Carel Buckle, voorsitter van AfriForum se Kannaland-tak, sê dat hul gemeenskap vir hulle die belangrikste is.

“Ons is hier vir die gemeenskap en dra hul belange op die hart. Ons neem ons toekoms in ons eie hande en sal voortgaan om daarna te streef om ons mense te bemagtig.”