Groot pret by Hondeskou!
Luhann, Aldo en Tristan van Wyk speel Saterdag met Mia (4), ’n miniatuur bull terrier van Malmesbury wat die dag as “best of breed” aangewys is. Haar volle naam is Grand Champ Lushan Mini Angel Dust en haar gunsteling tydverdryf om met haar pienk bal te speel! Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
OUDTSHOORNIETE het die afgelope naweek die kans gehad om meer as 225 honde van 56 verskillende honderasse te sien by die jaarlikse hondeskoue van die Outeniqua Kennel Club en die George Kennel Club wat op Oudtshoorn plaasgevind het.
Die Outeniqua Kennel Club se skou het vanjaar die 43ste keer op Oudtshoorn plaasgevind en die George Kennel Club se skou die 22ste keer.
Volgens Jos en Philip van Zyl, hooforgani-seerders van vanjaar se skoue wat op die terrein van die Hoërskool Oudtshoorn plaasgevind het, was die naweek baie suksesvol, en is baie positiewe terugvoer van deelnemers en besoekers ontvang.
Vier kampioenskoue is van Saterdag tot Maandag gehou met honde-eienaars wat van regoor Suid-Afrika na Oudtshoorn vir die skoue gereis het.