Die Switserse Bachelorette, Andrina Santoro, en ’n metgesel in die krokodil-duikhok tydens verfilming. Foto verskaf
TWEE Nylkrokodille van Oudtshoorn was vandeesweek die sterre in ’n episode van die Switserse weergawe van die TV-werklikheidsreeks The Bachelorette.
In die episode, wat Maandag (17 Junie) in Switserland uitgesaai is, het die Bachelorette, Andrina Santoro, en een van haar metgeselle saam met die Cango Wildlife Ranch se krokodille gaan duik.
Santoro en haar metgesel was darem in ’n spesiale duikhok wat in die krokodilpoel laat sak word!
Die episode is op 16 Maart op Oudtshoorn verfilm.
Volgens Mari-Lize Warrington, bemarkingsbestuurder van die Cango Wildlife Ranch, was daar ’n ooreenkoms tussen hulle en die vervaardigers van die program om die verfilming eers geheim te hou.
“Ons het wel op 16 Maart op Facebook geskryf hier is ’n filmspan besig, maar geensins uitgebrei daarop of ’n aanduiding gegee wie en van waar hulle is nie.”
Warrington sê die twee krokodille, Freddie en Jason, is in hul vroeë twintigs.
“Hulle het hulle die dag baie goed gedra! Hulle het ons almal verbaas en het duidelik gewys dat hulle ’n natuurlike aanleg het vir roem!”
Volgens haar is die blootstelling wat die krokodille deur die verfilming en uitsending van die episode kry, van groot waarde vir die spesie.
“Dit is noodsaaklik dat die publiek die Nylkrokodil se skoonheid leer waardeer en hulle as ’n toproofdier respekteer. Hoe meer mense van ’n spesie weet, hoe minder konflik sal daar tussen mense en diere wees.
Sy sê krokodille is ’n noodsaaklike spesie en onmisbaar vir hul ekologiese rol in die natuur.
“Soos die geskiedenis ons leer, bring die uitsterwing van ’n roofdier ’n enorme wanbalans in die ekostelsel en ook in die dier se direkte omgewing.
“Die Nylkrokodil was tussen die 1940’s en 1960’s naby aan uitsterf, maar die spesie is gered toe plaaslike en internasionale kundiges betrokke geraak het.
“Die krokodil is bekend as die naaste familie van die dinosourus, en dus ’n spesie wat al baie oorleef het.
“Ook daarom verdien hulle ons respek.”
Freddie en Jason, wat in 2001 by ’n privaat-instansie aangekoop is, maak ’n belangrike deel uit van die Cango Wildlife Ranch se opvoedingsprogram.
Dié program lig besoekers in oor krokodille se eienskappe en gedrag, en ook hoe belangrik hulle is vir die omgewing.