Johnny Baartman (voorsitter) en Phillip Seroux (projekbestuurder) voor regs saam met verlede jaar se sanggroepwenners van Korrektiewe Dienste. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE jaarlikse Gospel-talentkompetisie van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) vind Sondag (27 Oktober) op Oudtshoorn plaas met die finaliste in die verskillende kategorieë wat sake in die kerksaal van die St Simons Anglikaanse Kerk sal uitspook.
Volgens Phillip Seroux, projekbestuurder van die forum, was dit ’n moeilike taak om die finaliste te bepaal. Die kompetisie word deur die OCJF gereël om blootstelling te gee aan talentvolle jongmense van Oudtshoorn en die distrik vir latere moontlike deelname aan groter kompetisies.
“Ons het baie talent wat net ontgin moet word,” sê Seroux.
Verskeie sanggroepe en kore sal in die voorprogram optree – die Choraleers, Oudtshoorn Korrektiewe Dienste, Welgeluk Familiekoor, Joey Hufke, Lizelle van Hanzen, Jim Dido en Vriende, Godfrey Lottering en die koor van die Polisie Akademie.
Die geleentheid begin om 15:00 en toegang is R10 vir volwassenes en R5 vir kinders.