Met die brandstofpryse wat Dinsdag weer gestyg het, is dit noodsaaklik om ander maniere te vind op brandstofverbruik te verminder, sodat dit nie net jou las ligter op jou sak maak nie, maar kan ook voordelig wees vir jou voertuig.
Petrol se prys het met R1,21 gestyg en Diesel met R1,19. Petrol jaag verbruikers tans R23,91 per liter uit die sak en diesel R23,15 (50 ppm) en R23,25.
Hier is ’n hele paar wenke wat moontlik kan help:
- Beplan jou roetes. Dis ’n goeie idee om jou reis roete te beplan sodat daar nie onnodig op en af gery word nie. Bv. Sodra my kinders by Langenhoven Gimnasium en Laerskool Laurus afgelaai is, ry ek na ons kantoor naby die Koöperasie, en begin ek liewer vroeër werk as om terug plaas toe te gaan en eers 08:00 te werk. Dit verseker dat daar 14 km per dag, 70 km per week en sowat 280 km minder per maand gery word.
- Verander ratte vroeër na ’n hoër rat. Die enjin is onder groter lading wanneer daar in ’n lae rat teen lae rewolusies gery word wat tot meer brandstof-verbruik lei. Optimale revolusies per minuut verskil van fabrikaat tot fabrikaat.
- Verseker dat die bande se druk korrek is. Lae banddruk kan lei tot hoër petrolverbruik. Stikstof kan ook by ’n bandehandelaar in die bande geblaas word wat nie net die bande se leeftyd verleng nie, maar ook voorkom dat die bande warm raak en in-en-uitsit, wat weer die bande se druk beïnvloed. Groen proppies sal die swart proppies op jou bande se lugklep vervang sodat daar nie lug gebruik word nie. Dit kos sowat R30 per band om lug in bande te vervang.
- Moenie met oop vensters ry nie, dit beïnvloed die aërodinamiese vorm van die voertuig wat tot meer brandstofverbruik kan lei.
- Gebruik slegs die lugverkoeler wanneer nodig. Met die winter wat een van die dae op hande is, sal bestuurders beslis baat vind hierby. Tot dan moet daar sover moontlik vasgebyt word wanneer die Klein Karoo warm dae beleef.
- Verseker dat voertuie betyds gediens word om alle onderdele op die voertuig en enjin in goeie toestand te hou. Wanneer olie en filters vuil is, werk die enjin harder.
- Skakel eerder jou motor af in plaas daarvan om die enjin te laat luier wanneer daar gewag word vir kinders om na skool uit te kom, of jou geliefde dalk inkopies doen terwyl jy in die kar wag.
Die nuwe petrolprys gaan beslis baie bestuurders tweemaal laat dink oor waar en wanneer daar gery gaan word, en ’n impak hê op verskeie beplande reise en vakansies. Dit kan wel bestuur word deur net goed te beplan en die bogenoemde wenke te volg. (Deur Angelique Erasmus)
