Spaar so brandstof!

Met die brandstofverhoging wat Woensdag (1 Junie 2022) in Suid-Afrika in werking getree het, moet almal nou hulle gordels stywer trek om te probeer om kop bo water te hou met die vervoerkoste.
Petrol het met R2,33 en diesel met R1,07 per liter duurder geword.


MET die brandstofverhoging wat Woensdag (1 Junie 2022) in werking getree het, moet almal nou maniere vind om brandstof te bespaar.

Ek het so ’n bietjie gaan rondsnuffel na maniere om brandstof te bespaar:
• Diens jou motor gereeld, selfs al ry jy nie so baie nie. Sorg dat jy jou motor ten minste een keer per jaar vir ’n deeglike diens neem.

• Hou jou motor se banddruk dop. ’n Band wat te sag is, maak jou motor swaarder op brandstof.

• Beplan jou ritte, sodat jy nie on­nodig hoef heen en weer te ry nie.

• Versnel egalig. Moenie vinnig wegtrek, en te vinnig om draaie gaan nie. Indien jou motor ’n “eco”- funksie het, gebruik dit.

• Verwissel vroeër van rat as wat jy normaalweg sou doen.

Om brandstof te bespaar: verwissel van rat op 2 500 retoere vir petrolenjins en 2 000 retoere vir dieselenjins.

Van die hedendaagse voertuie het aanwysers wat vir jou sê wanneer om van rat te verander.

• Hou by die spoedgrens. Hoe vinniger jy ry, hoe meer brandstof gebruik jy.

• Moenie jou motor vir lang rukke laat luier (idle) nie. Deesdae skakel van die nuwe motors sommer self af.

• Gebruik die lugversorger maar spaarsamig. Nou vra julle seker: “In die somer ook in Oudtshoorn se hitte?”. Probeer maar, want jou lugversorger maak jou voertuig 10% swaarder op brandstof.

As jy net in die dorp rondry en nie ’n kleuter, baba of troeteldier by jou het nie, kan jy gerus die vensters oopdraai, soos diegene maar doen wat nie die luuksheid het van ’n lugversorger nie.

Op die langpad egter veroorsaak ’n oop venster onnodige windweerstand; so dan kan jy jou lugversorger gerus maar gebruik.

• Moenie onnodige swaar goed in jou motor vervoer nie. Hoe ligter jou voertuig se vrag is, hoe minder brandstof gebruik dit.

• Versnel voordat jy ’n bult opry. Dié bietjie meer momentum help baie. Dit geld veral vir klein motors wat kleiner enjins het.

My ondervinding is om voor die bult na ’n laer rat oor te skakel en dan te versnel. Indien jy byvoorbeeld in vyfde rat bly en dan moet oorskakel na ’n laer rat teen die bult, verloor jy momentum en moet jy gewoonlik na nog ’n laer rat oorskakel om oor die bult te kom.

Die belangrikste is egter nou met hemelhoë brandstofpryse: Ry veilig en ry spaarsamig! (Deur Heinrich Bosman)