Twee mans gesoek na seksuele aanranding

DIE Oudtshoorn Polisie vra hulp om twee mans op te spoor in verband met die seksuele aanranding van ’n vrou by haar blyplek op 1 April.

Volgens inligting wat deur die Oudtshoorn Polisie beskikbaar gestel is, is die man wat haar aangerand het, bruin en het hy Afrikaans gepraat. Hy het ’n bruin baadjie en ’n swart mus gedra en sy ouderdom word op 20 jaar of ouer geskat.

Volgens inligting het die klaer haar vriend in die dorp ontmoet, maar was hy en ’n ander vrou by die afgesproke plek in gesprek. Die klaer en die vriend het in ’n woordewisseling betrokke geraak, sy het hom geklap en teruggeloop na haar blyplek.

Hier is sy deur twee onbekende mans (ge­sigs­voorstellings regs) genader waarna een haar met geweld op die grond vasgedruk en aangerand het. Die mans het daarna weggeloop.

Kontak ao Anton Kock by tel 044 203 7500 of 082 778 7293 met inligting. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.