Twee inbrake ná mekaar by Invalsentrum vir weerlose kinders en kinders op straat

Desmond George, koördineerder van die  Invalsentrum, by die ingang waar inbrekers toegang tot die gebou verkry het.  Foto: Liesel le Roux

Desmond George, koördineerder van die Invalsentrum, by die ingang waar inbrekers toegang tot die gebou verkry het. Foto: Liesel le Roux

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van huisbraak en diefstal nadat inbrekers die afgelope twee naweke die St Francis Invalsentrum geplunder en kos en toerusting gesteel het.

Die sentrum is sedert 2015 in die Centre of Hope gebou in Jonesstraat geleë en is beskikbaar vir weerlose kinders en kinders op straat.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die eerste inbraak tussen 21 en 22 April. Suiker, mieliemeel, wors, melk, ’n verlengingskoord, tuingrawe, tuinvurke en ’n gaskan is gesteel. Niemand is in verband met die eerste inbraak in hegtenis geneem nie.

Die tweede inbraak het Dinsdag in die vroeë oggendure plaasgevind.

Met die tweede inbraak is ’n stel eetgerei, ’n mikrogolfoond, ’n verlengingskoord en mielie­meel gesteel.Volgens Desmond George, koördineerder by die St Francis Invalsentrum, het die sekuriteitswagte een van die personeellede laat weet van die inbraak.

“Die inbrake is blykbaar deur ’n huurder van ’n gedeelte van die Centre of Hope-gebou, by die sekuriteitswagte aangemeld.

George het gister gesê die speurders was vroeër die dag daar om vingerafdrukke te neem.

Die inbrekers het elke keer toegang tot die gebou verkry deur ’n herwinningsonderneming wat langs die Invalsentrum in dieselfde gebou gehuisves word.

Die munisipaliteit het die gebou einde Februarie aan die onderneming beskikbaar gestel sonder om Famsa Karoo te konsulteer.

“Ons personeel en kinders se waardigheid is deur die inbrake ontneem,” sê Franzu Badenhorst, ­direkteur van Famsa Karoo wat die sentrum bedryf.

Volgens Badenhorst sal ’n alarmstelsel net geïnstalleer kan word as Famsa daarin kan slaag om ’n huurkontrak van die munisipaliteit te kry.

“Ons het na al die jare nog steeds geen huurkontrak of klarigheid oor die gebruik van die gebou nie.”

Badenhorst sê dat die gebou na vorige inbrake deur Famsa Karoo beveilig is, maar noudat ander partye ook betrokke is, is dit nie meer moontlik nie.
• Famsa Karoo het vroeg in Maart ’n klag by die Suid-Afri­kaanse Menseregtekommissie ingedien teen die Oudtshoorn Munisipaliteit en munisipale amp­te­nare dat hulle nie hul grondwetlike verant­woordelik­he­de nakom teenoor “kwesbare kinders” en “kinders wat voorheen beskou is as kinders op die straat” nie.

In die geskrewe klag word spesifiek verwys na die St Francis Invalsentrum.

Volgens die klag wat ingedien is, het verskeie inbrake al daar voorgekom ondanks veilig­heids­wagte op die perseel. Die perseel is ook oor­stroom weens swak dreinering, waterlekkasies en lek­kasies van rou riool van die aangrensende perseel.

Met elk van die gemelde voorvalle was daar aansienlike skade wat luidens die klag deur Famsa by die munisipaliteit aangemeld is. In sommige ge­valle het die munisipaliteit wel gereageer ten opsigte van herstelwerk en instandhouding aan die buitekant van die gebou. In die meeste gevalle is die klagtes egter geïgnoreer.