
Marlene Erasmus – Entrepreneur
‘Glo net in jouself en wees lief vir jouself net soos jy is.’
Ontmoet Marlene Erasmus. Marlene het van ’n jong ouderdom af haarself die vraag gevra: “Hoekom het Liewe Jesus my ’n vrou gemaak en vandag op 54 weet ek hoekom.”
Marlene bestuur haar eie besigheid, naamlik haar eie stofferfabriek. Die stoffers word self uitgevoer, dit is ’n besigheid wat sy sedert 2014 baie suksesvol doen.
Sy het ’n groot passie vir haar werk, haar 3 kinders en die werkers by haar besigheid.
“Dis om die hard en die lelik van die lewe in sag en mooi te verander, dis om op te staan vir jouself en vir ander op ’n subtiele, dog diplomatiese manier sodat jou stem as vrou gehoor en gerespekteer word. Ons vroue is en was en sal altyd sterk staan in ’n gemeenskap en vir ander.”
“Dit het vir my selfvertroue gegee om te weet dit maak nie saak waar ek my bevind nie, dat ek my mees egte en sonder enige verskoning self kan wees.”
Marlene sê sy leef getrou aan haar waardes en streef daarna om haarself as vrou te bemagtig.
“Ek glo vrouwees gaan oor wie jy wil wees en nie wat ander vir jou voorskryf nie.”
“Ek wil ander vroue motiveer en se: Glo net in jouself en wees lief vir jouself net soos jy is.”
As ons almal onsself liefhet, is dit die sterkste wat ons kan wees.”

Irene Vermeulen – Entrepreneur
‘Die geheim is om net aan te hou!’
Irene vermeulen is ’n entrepreneur met verskeie sake- ondernemings wat insluit Oudtshoorn Begrafnisdienste, Milan Marble & Granite, die George Krematorium, bergingseenhede in Mosselbaai en die laaste aftreeplek vir haar is. Daar is ook ’n padstal net voor Plettenbergbaai, Shabby Fufu.
“Daar is GEEN maklike pad na SUKSES toe nie,” sê sy.
“Sukses in besigheid is ’n kombinasie van toewyding, harde werk en slim besluite. Dit gaan oor die skep van ’n visie en dit om te skakel na realiteit. Wat verder belangrik is, is om goeie leierskapseienskappe te ontwikkel en spanwerk te bevorder. Dit vereis ook die vermoë om risiko’s te neem en te leer uit foute. Suksesvolle besigheidsmense het deursettingsvermoë, geduld en doelgerigtheid. Daarbenewens is ’n sterk netwerk van kontakte en die vermoeë om die mark te verstaan uiters belangrik. Die kenmerk van sukses in besigheid is om voortdurend te leer en groei, en om altyd op die uitkyk te wees vir nuwe geleenthede en innoverende maniere om waarde te skep.”
“Die pad is vol slaggate en afdraaipaaie, daar is ook heelwat kruisings waar jy belangrike besluite moet neem, soms is daar baie verkeer, soms is die pad eensaam. Soms is dit teerpad en soms grondpad. Die pad neem jou oor berge, in die valleie en soms voel dit of jy vassit in modderpaaie.”
“Die geheim is om net aan te hou, en aan te hou en aan te hou en aan te hou…”

Jodi Mulder – Finansiële Adviseur
‘Kliënte is my passie.’
Jodi Mulder is die eienaar van Jodi Mulder Financial Solutions.
Sy het BComm regte studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en het ’n kwalifikasie in Finansiële Beplanning ontvang.
Sy is al ongeveer 18 jaar in die versekeringsbedryf en het die afgelope 6 maande ook in assosiasie met SKFD gegaan om kliënte toegang te gee tot uitgebreide en omvattende spesialisdiens in korttermyn-, langtermyn- en mediese versekering. Sy geniet haar beroep en beskryf dat haar kliënte haar passie is.
Besoek haar gerus by haar kantoor te Jan Lotzhuis, Baron van Reedestraat, Oudtshoorn, indien jy ’n finansiële adviseur benodig.