Liesel le Roux
Oudtshoorniete en besoekers aan die KKNK kan gerus die streek se mooiste volstruispluim vir Madeleine Miles gee, ’n inwoner van die dorp wat al jare lank agter die skerms werk om Oudtshoorn en die KKNK mooier en beter te maak.
Baie inwoners het haar in 2012 leer ken as dié jong vrou wat hand opgesteek het om een van die stukragte te word agter die Droom vir Oudtshoorn-projek. Vrywilligers betrokke by dié projek se doelwit was om ’n verskil op die dorp te maak en dit te verfraai. Die bekendste projek wat deur hulle aangepak is, was seker die verfraaiing van die gebied om die historiese hangbrug wat in 2012/ 2013 onder hulle hande ’n gedaanteverwisseling ondergaan het.
Maar Madeleine, wat in die eerste plek ’n kunstenaar is wat nie wyfel om haar kennis en vaardighede aan ander oor te dra nie, is die laaste jare ook die persoon agter soveel kuns- en mooimaakprojekte tydens elke jaar se KKNK.
Sy is byvoorbeeld die een wat ’n paar jaar gelede die kleurvolle poort in Baron van Reedestraat ontwerp het, die een wat gesorg het vir die vrolike vlaggies wat dié straat tydens die fees versier, die een wat aandag getrek het met Die Parklet in 2013, ’n kunswerk waarop mense kon sit met stoele wat uit fietsonderdele aanmekaar gesweis is, en nog vir vele ander projekte.
Sy is ook vanjaar een van vier jong Oudtshoorniete wat die gesig is van Absa se KKNK-bemarkingsveldtog. Het jy al die nuwe reuse-plakkaat teen die muur van die CJ Langenhoven
Gedenkbiblioteek op Oudtshoorn gesien?
Madeleine is sedert verlede jaar die projekbestuurder op Oudtshoorn van Absa se Maakit Mooi-projek wat permanente en funksionele kunswerke op verskeie plekke op die dorp laat oprig.
’n Interessante ander projek wat tydens die KKNK vanjaar sigbaar gaan wees, is ook Madeleine se inisiatief. Meer daaroor volgende week.
Sy is tans – ’n week voor vanjaar se KKNK – seker een van die besigste mense op Oudtshoorn. Sterkte, Madeleine, en dankie vir wat jy vir die dorp doen.